Die sanger Appel se nuwe enkelsnitte maak geskiedenis op die iTunes All-Genre trefferlys.

Dina is die tweede enkelsnit van Appel se splinternuwe album Hardwerkende Man wat No 1 op die iTunes All-Genre trefferlys bereik. Dina volg in die voetspore van Hier Sal Jy Boer wat vroeër die week ook die No 1 posisie bereik het. Appel is die eerste Afrikaanse kunstenaar wat die No 1 en No 2 posisies gelyktydig beklee asook twee liedjies in die Top 10 het.

Hierdie prestasie gebeur so selde vir ‘n Afrikaanse liedjie, van die vorige kere wat dit al gebeur het was Dames van Biggy wat op 3 September 2019, No 1 bereik het. Ricus Nel en Snotkop het met Boerepompie ook No 1 gegaan op 14 Junie 2019 en Karen Zoid het dit ‘n ongelooflike sewe keer reggekry met haar Republiek van Zoid Afrika enkelsnitte.

Dina op No 1 en Hier Sal Jy Boer op No 2 op die iTunes All-Genre trefferlys

Appel beskryf Hardwerkende Man as die klankbaan vir die ou wat nie maklik oor sy gevoelens praat nie. “Die album is vir die ou wat nie weet hoe om sy emosies in woord uit te druk nie, maar wat na my musiek luister en dit laat resoneer in sy eie hartsgange.

Die titelsnit Hardwerkende Man is deur sy ma se stories oor sy oupas geïnspireer.

Albei my oupas het vir die staat gewerk en Sondae kerk toe gegaan. My Ma se Pa Albie Kruger, was destyds ‘n bokser en rugbyspeler vir Iscor en was betrokke by Blou Bulle-rugby. Hy was ‘n geharde konserwatiewe man wat geglo het dit is nie manlik om oor jou gevoelens te praat nie

Tog het hy soveel emosie in hom gehad dat hy selfs koor gesing het. in die kort rukkie wat hy my gekom het, was hy trots op my en hy wou hê ek moet ‘n man van inbors wees.

Sy Pa se Pa, Christoffel Wentzel Kotze, het op die spoorweë gewerk en was die vredeliewende een, vertel Appel.

Sy grootste droom was om ‘n boer te wees, maar hy het nooit geld daarvoor gehad nie. Op sy groot burgererf in Pretoria-Wes het hy egter die mooiste druiwepriële, vrugteboorde en hoenders gehad en soms het hy perde gespeel en gehoop hy wen geld om grond mee te kan koop

Volgens Appel, wat homself oor die afgelope 11 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig het as een van die grootste dryfkragte vir Afrikaans musiek, het sy Oupas in sy lewe belê met gebed en goeie wense vir sy toekoms.

Ek wonder altyd met ‘n vertoning war hulle sou sê as hulle my so op die verhoog kon sien, want hulle speel ‘n baie groot rol in my uitkyk op die lewe. Ek dink ek het ‘n goeie balans van albei my oupas in my.”

Appel wou met Hier Sal Jy Boer die boere van die land moed inpraat. “Ek het toe besef dit gaan nie oor wat ek sê nie, want ek is net van vlees en bloed, Ek het begin wonder was sou die Here wou sê vir sy mense en toe kom die woorde net. Dit is min dat woorde net so vloei, asof die liedjie klaar geskryf was en ek moes net die woorde neerpen.”

Met Dina sinspeel Appel op die FAK-liedjie Waar Is My Dina?. In Dina vertel Appel sy eie weergawe van waar Dina is. “Die verhaal speel af in die Hantamberge en Dina was ‘n goeie vrou vir haar boereman. Die liedjie vertel net soos al die ander op een of ander manies ‘n storie wat weer terugkom na die boer.

Hier Sal Jy Boer en Dina is beskikbaar op alle digitale platforms.

Appel se vierde album Hardwerkende Man sal op 11 June beskikbaar wees op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | TikTok | Twitter

Leave a Reply

error: Content is protected !!