Na die sukses van haar eerste enkelsnit, Tweede Asem, is dié talentvolle sangeres terug met nuwe musiek en wys ‘n dieper kant van haarself wat sy nou ook graag met die publiek wil deel.

Wat Ek Wil Hê, wat ook te vind is op Andréa se debuutalbum wat in Mei vrygestel is, is ‘n ligte treffer wat gebeurtenisse in haar lewe, asook wat sy nog hoop om te gebeur, oor dra in die vorm van die lirieke waaruit die snit bestaan.

Sy hoop ook om met Wat Ek Wil Hê aanklank te vind by ‘n gehoor wat die betekenis agter die lied ook op hulle eie lewens sal kan toepas. Die snit is Andréa se tweede enkelsnitvrystelling.

Die enkelsnit is deur die liriese towenaar William Wolf geskryf en dan ook vervaardig deur Hugo Ludik by sy opname-ateljee, Muse Studios, in Boskruin, Randburg.

Omdat Andréa al ‘n langer pad met William as liedjieskrywer gestap het (hy het gehelp om tien uit die twaalf snitte waaruit haar debuutalbum bestaan te skryf), was hy reeds bewus van aspekte van haar persoonlike lewe wat sy ook graag deur die snit wou oordra; sy wou wys wie sy is en wat sy ook wil hê – soos die titel van die snit reeds bekend stel.

Buite haar musiekloopbaan is Andréa ook besig met ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe, gegrond in haar graad in besigheidsbestuur en bemarking. Sy het onlangs ‘n pos aanvaar by die “SSC group” in Centurion en werk tans ook voltyds vir die maatskappy. Sy vertel dat sy wel nog wag om te sien waarheen sy geneem sal word in verband met hierdie nuwe onderneming in haar lewe.

Andréa sou graag wil hê dat daar ‘n balans tussen haar musiek en besigheidsloopbaan moet wees, en dat sy steeds albei ten volle sal kan uitleef.

Ironies genoeg het haar aanlegtoetse ‘n paar jaar terug gewys dat haar sterk punte met ‘n oorweldigende 90% in die kunste lê, maar steeds het sy besluit om haar studies op haar laagste aanleg te baseer. Hierdie het haar wel nie gekeer om steeds goed te vaar in dié studies, en geniet sy steeds elke oomblik daarvan.

Darem in terme van ’n opleiding in musiek is Andréa ook geen nuweling nie. Sy het ‘n groot deel van haar lewe spandeer aan haar studies in musiekteorie, elektriese kitaar en sang, alles te Trinity College voltooi.

Voor dié studies was sy wel ook reeds as kind gereeld aan musiek blootgestel. Sy vertel dat daar konstant musiek in die huis gespeel is en dus het sy in Graad 2 ook met sanglesse begin, sowel as addisionele lesse in klavier, akoestiese kitaar, elektriese kitaar en ook musiekteorie.

Wat Ek Wil Hê as enkelsnit word ook begelei deur middel van ‘n musiekvideo wat ook deur die span by Muse Studios onder leiding van Gerduan Kemp verfilm en vervaardig is.

Dié musiekvideo se konsep loop ook hand-in-hand met die persoonlike boodskap agter die snit.

Kyk die musiekvideo hier:

Die video wys Andréa in ‘n wagkamer van die bekende Atterbury Theatre, en volg haar pad tot ‘n eindelike optrede op die verhoog van die teater. Wat dié video wel spesiaal maak, is die verskillende simboliese komponente van haar persoonlike lewe – onder andere haar geliefde honde – wat tussendeur ook ‘n verskyning maak.

Wat Ek Wil Hê is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!