Alba V - Ek Vat Jou SaamAlba V - Ek Vat Jou Saam

Alba V het pas haar enkelsnit, Ek Vat Jou Saam, vrygestel en dié 14-jarige aan die Helpmekaar Kollege, in Johannesburg, het vertel die liedjie handel oor ’n tienermeisie wat net wil dans en pret hê en dan ook haar vriende uitnooi om die reis saam met haar te geniet.

Dié Afrikaanse popliedjie is deur Janie Bay, wat sélf opslae in die Afrikaanse musiekbedryf maak met een van haar nuutste enkelsnitte, Kalmeer, wat nog op verskeie ranglyste pronk, geskryf.

“Die storie agter die liedjie is dat ons nou bietjie verlore tyd saam met ons vriende wil inhaal na afloop van die Covid-19-pandemie se inperkings,” het Alba vertel.

“Dit was twee moeilike Covid-jare en dis nog nie regtig verby nie. Skool was ’n uitdaging en ons het soveel keer slegte nuus gekry. Ek het die behoefte om so nou in dan net te ontsnap na ’n plek waar ek net myself kan wees, vergeet van alles om my en waar ek my vriende kan geniet,” het sy verder verduidelik.

Volgens haar wil sy graag met dié ritmiese liedjie luisteraars saam met haar op reis neem as hul na die woorde van die liedjie luister.

“Al is dit by jouself – sing saam, dans en geniet die oomblik,” het sy bygevoeg.

Alba het ook onlangs ’n duet saam met haar Ma, die gewilde Hoe Jy Lyk-sangeres Nadia Vorster, vrygestel. In You & Me besing hul die ware liefde tussen ’n ouer en ’n kind.

“Dit was ’n eer om saam met my Ma ’n liedjie op te neem en die hele gesin te kon deel maak van die musiekvideo. Dis iets wat ek vir alyd sal koester,” het Alba gesê. Alba is reeds vanaf ’n baie jong ouderdom lief vir musiek en toneelspeel en volgens haar is hierdie vrystellings ’n hoogtepunt wat sy vir altyd gaan onthou.

Ek Vat Jou Saam is deur Dee Graaff Productions vervaardig met Ruan Graaff as vervaardiger. “Ruan en Deon Dee het hul stempel op hierdie eindresultaat afgedruk en ons is so opgewonde,” het Alba vertel.

Kyk die musiekvideo hier:

Alba toer gedurende Julie 2022 saam met SACOPA (South African Championships of Performing Arts) na Los Angeles om Suid-Afrika in die WCOPA (World Championships of Performing Arts) te verteenwoordig.

“Daarna wil ek ook my volgende enkelsnit – moontlik met ’n musiekvideo – vrystel,” het sy verklap.

Alba vertel laggend dat vandat sy aan haar eerste konsert, Rooikappie, in kleuterskool deelgeneem het, sy net lief geraak het vir die verhoog.

“Ek sal ook nog graag eendag saam met Leah wil werk – sy straal net hierdie ongelooflike energie uit en wys dat jy elke dag ten volle moet leef,” het sy vertel.

“My familie en God inspireer my om aanhou te sing en musiek te skryf want hulle herinner my elke dag daaraan om nie bang te wees om my talente te wys nie. Almal is uniek in hulle eie spesiale manier,” het Alba gesê.

Alba het vertel dat as sy enige ander beroep moes kies sou sy graag ’n plastiese chirurg wou wees.

“Ek hou daarvan om mense te help en wil graag in ’n beroep wees waar ek mense kan help om tevrede te wees met hulself – al is hulle perfek net soos hul is,” het sy opgewonde vertel.

Alba se gunsteling aanhaling is “risk to fall to know how it feels to fly” van Alicia Keys en sy is beslis reg om die lewe en haar toekoms in te vlieg.

Ek Vat Jou Saam is nou beskikbaar op alle digitaleplatforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!