Die gewilde groep Gevoel van Veiligheid is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Goedkoop Genade, en met dié liedjie wil hulle luisteraars graag aanmoedig om twee keer te dink oor die genade wat hulle ontvang – veral in dié tye.
Raymond Horn, lid van die groep wat ook dié liedjie gepen het, het vertel dat die interne soektog na logika in die deurmekaar wêreld die inspirasie was vir Goedkoop Genade.
“Dit gaan baie oor die twis en onruste wat ons almal vandag ervaar en hoe om binne jouself sin te maak van alles. Die liedjie is vol dubbelsinnigheid en spelfoute,” het hy verduidelik.
“Ons het juis besluit om Goedkoop Genade nou vry te stel want ek glo almal sal aanklank vind met die deurmekaar situasie waarin ons onsself nou bevind,” het hy vertel.
“Mense wat dieper betekenis soek in musiek sal Goedkoop Genade waardeer – maar diegene wat ook wil sokkie sal beslis hiervan hou as hulle die hele liedjie luister,” het Horn gesê.
Horn het vertel dat as mense die liedjie luister en daarna nog wonder of hulle genade ontvang of koop het die liedjie sy doel gedien en het hulle geslaag in wat hul wil bereik. Die musiekvideo is ook pas vrygestel en is die eerste een van ñ tweedeelstorie wat Gevoel van Veiligheid wil vertel oor die inperkings en Covid-19.
“Dit het ons almal affekteer en meeste van ons musikante was onder baie druk om ander planne te maak,” het hy vertel.
Die ander lede van Gevoel van Veiligheid is Deon Roos, Dean Nortjé en Daniel Rademeyer. Roos, wat reeds vanaf die begin van Gevoel van Veiligheid saam met Horn deel is van die groep het vertel dat musiek vir hom ’n oorlewingsmeganisme is. “Ek het nog altyd musiek wat stories vertel geniet en glo dis wat ons ook bied – veral nou met Goedkoop Genade,” het Roos vertel.
Dean Nortjé, die man wat toor met sy dromstokke, het vertel dat hy baie opgewonde is oor Goedkoop Genade. Nortjé speel al van hoërskooldae in orkeste en het vertel dis al die musiek om hom wat hom inspireer om musiek te maak. “En ook Raymond se mooi stem,” het hy grappenderwys vertel.
Daniel Rademeyer is op baskitaar en was ook verantwoordelik vir die vervaardiging van hul musiekvideo vir Goedkoop Genade.
Gevoel van Veiligheid het in 2010 – net as ’n kantlynprojek – as ’n twee stuk akoestiese punk/rock-groep in Pretoria ontstaan deur Roos – voorheen van Die Onbekende, en Horn – voorheen van Neontetra. Met Goedkoop Genade sal hulle dan ook reeds spog met ’n totaal van nege musiekvideo’s wat vir kykNET goedgekeur is oor ñ paar jaar.
Dié groep se klank en gevoel handel oor die gevoel van innerlike veiligheid wat ’n mens se hart warm maak hart warm maak wanneer jy tussen jou mense, jou vriende, familie en liefdes rondbeweeg.
Goedkoop Genade is beskikbaar op alle digitale platforms.
