Die Suid-Afrikaanse musiekgroep VanCoet, bestaande uit die talentvolle Jonathan Jansen van Vuuren, Chamonix Jansen van Vuuren, Ruben Coetzee, en Tian Coetzee, sluit 2024 af met ‘n impakvolle nuwe enkelsnit, “Die Stryd.” Hierdie lied is ‘n eerlike en rauwe weerspieëling van die daaglikse uitdagings waarmee Suid-Afrikaners tans gekonfronteer word. “Die Stryd” beloof om by luisteraars regoor die land aanklank te vind, en ‘n veel groter betekenis te hê.

Chamonix Jansen van Vuuren deel die oorsprong van die lied: “Ons is almal moeg vir die konstante stryd teen korrupsie, misdaad, en die leë beloftes van ons regering. ‘Die Stryd’ verwoord daardie magteloosheid wat ons as Suid-Afrikaners elke dag ervaar, maar herinner ons ook dat ons nie alleen hierin is nie. Ongeag jou velkleur of agtergrond, ons veg almal dieselfde geveg.”

Die liedjie is in ‘n donker uur geskep, toe die groep saam was in ‘n aand sonder krag as gevolg van beurtkrag – ‘n situasie wat elke Suid-Afrikaner kan identifiseer. Jonathan Jansen van Vuuren het die melodie bedink, en die groep het gesamentlik die lirieke geskryf om hul frustrasie en moegheid vas te vang. Die klank, wat ‘n moderne 80’s-invloed het, is oorspronklik geïnspireer deur ‘n eenvoudige noot wat deur ‘n vriend in die kerk gespeel is en later verder ontwikkel is deur die groep.

“Die Stryd” is saam met Muse Studios opgeneem en vervaardig, terwyl Vonk Musiek die bemarking en verspreiding hanteer. Volgens Chamonix, is die liedjie een van die eerste wat hulle gevoel het mense moet hoor: “Dit is ‘n stuk musiek wat ons nie net persoonlik geraak het nie, maar wat ons glo iets vir ander mense kan beteken.”

Die groep se doel met “Die Stryd” is om luisteraars te inspireer om hul stem te vind, al is dit net deur die lirieke of die kragtige melodie van die liedjie. Hulle hoop dat die snit luisteraars sal aanmoedig om te reflekteer, saam te staan en hul gesamentlike uitdagings aan te pak.

VanCoet het groot planne vir die nuwe jaar en aanhangers kan uitsien na nog meer vars musiek in 2025. Vir nou, is “Die Stryd” se boodskap ‘n herinnering dat niemand alleen is nie.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!