Die jong sangeres en liedjieskrywer Lila Swift glo dit is belangrik om jouself tyd te gun om uit te vind wie jy is en jouself te leer ken. Dié lewensuitkyk is vasgepen in haar splinternuwe enkelsnit getiteld Net ’n Bietjie Tyd. 

Dié country-popliedjie is uit Lila se eie pen, in samewerking met Richann Brüssow van Reën-faam, Shan Read en die bekende musiekvervaardiger Murray Lubbe.  Net ’n Bietjie Tyd het ʼn diep boodskap waarby die sangeres self aanklank vind.  

“Ek het my eie stem ontdek en geleer om myself genoeg te vertrou om keuses te maak en leiding te neem in my lewe. Ek laat myself nie meer so beïnvloed deur mense se opinies of stemme van buite af nie,” sê Lila oor die tema van die liedjie. 

Die liedjie beskryf ook dat ʼn mens moet leer om jouself eerste te stel bo enige ander persoon wat jou probeer sleg beïnvloed. Die inspirasie vir Net ’n Bietjie Tyd het gekom toe die skrywers gesit en gesels het oor lewensfases wat gepaard gegaan het met onsekerheid. 

Lila glo egter Net ’n Bietjie Tyd is baie positief en die lirieke gee ʼn mens sekerheid dat jy jouself kan vind en optel en dat alles reg sal uitwerk op die einde van die dag. 

“Ek dink mense gaan die liedjie uiters inspirerend vind dit gebruik om hulleself op te tel wanneer hulle dalk af of verlore voel.” 

Lila se debuutsnit, Gap-Jaar, is vroeër vanjaar vrygestel en het baie goed op musiekstromingsdienste gedoen. Dié enkelsnit het ook op ranglyste op verskeie radiogolwe sy plek ingeneem.  

Luister die liedjie hier:

 Meer oor die kunstenaar: 

 Lila Swift is ʼn jong sangeres en liedjieskrywer en is al sowat sewe jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf doenig.  

As jong dogter het sy gereeld saam met haar sussies en vriendinne musiek gemaak en gedans en die liefde vir optree en storievertelling het toe reeds begin posvat.  

Lila luister graag na alle musiekgenres en is geïnspireer deur internasionale kunstenaars soos Taylor Swift en Shania Twain, en op eie bodem is sy mal oor Riaan Benadé, Riana Nel en Juanita du Plessis. 

Lila Swart | Foto: Verskaf

Haar eie musiek word geïnspireer deur haar herinneringe, liefde, en dinge wat soms nodig is om gesê te word.  

Haar tyd in die musiekbedryf het haar geleer daar gaan altyd mense wees wat jou wil af bring, maar dis jou besluit of jy hulle opinies wil hou of ignoreer. Selfvertroue en geduld was die grootste uitdagings wat sy moes oorkom. 

Sy beskryf haarself as “the girl next door” en verklap dat sy nie daarvan hou om grimering te dra nie.

Net ’n Bietjie Tyd is beskikbaar op alle digitale platforms. 

Leave a Reply

error: Content is protected !!