Die veelsydige en talentvolle kunstenaar, TiNo, het sopas sy splinternuwe enkelsnit, “Vir Jou, Oor Jou“, vrygestel.
TiNo, ‘n talentvolle sanger en liedjieskrywer, is bekend vir sy diep emosionele musiek en opregte lirieke. Sy passie lê in musiek wat dieper menslike ervarings en emosies weerspieël, en hy poog om met elke liedjie ‘n blywende indruk te laat. Hierdie toewyding is duidelik in sy nuutste enkelsnit, “Vir Jou, Oor Jou”.
Volgens TiNo is “Vir Jou, Oor Jou” ‘n liefdeslied wat ontstaan het uit sy eie persoonlike ervarings, maar dit spreek tot almal wat al ooit verlief was. Die liedjie vang die universele emosies van liefde vas wat almal minstens een keer in hul lewe ervaar het.
Die skepping van “Vir Jou, Oor Jou” het aan die begin van Januarie begin. Die inspirasie het gekom van sy omgewing en die mense rondom hom. Met ‘n melodie as beginpunt, het die lirieke natuurlik gevloei. Hierdie lied dra ‘n besondere betekenis vir hom, aangesien dit uit ‘n plek van liefde en omgee ontstaan het vir iemand wat destyds baie na aan sy hart was.
Met hierdie lied wil TiNo die boodskap oordra dat mense hul drome moet nastreef en hul gevoelens moet uitdruk. Hy moedig mense aan om kanse te vat, veral in liefde. Hy glo dat moed nodig is om jou ware gevoelens te deel en dat vrees jou nie moet terughou nie.
TiNo hoop dat “Vir Jou, Oor Jou” luisteraars sal inspireer om hul gevoelens eerlik te deel en die sprong te waag wanneer dit by liefde kom. Hierdie lied is ‘n herinnering dat die mooiste ervarings dikwels voorkom wanneer mense hul harte oopmaak en hul drome najaag.