Rudi Claase - Hobo-Hallelujah

Rudi Claase is opnuut dankbaar met sy nuutste enkelsnit Hobo-Hallelujah.

“Ek het ervaar hoe dit is om ryk én arm te wees.” Dít is die betekenis agter die nuwe enkelsnit van die bekende liedjieskrywer, musikant en sanger, Rudi Claase.“As ek nou terugkyk besef ek dat daar altyd iets was om voor dankbaar te wees, ongeag van hoeveel ek gehad het of nie gehad het nie.” Hy vertel sonder skroom hoe sy hart die lirieke vir Hobo Hallelujah geskryf het. “Hierdie liedjie het in my kop opgekom toe ek opgehou drink het. Toe ek heeltemal nugter en helderdenkend was het ek nederig besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees.”

Dit is ’n nuwe Rudi wat voor my sit. ’n Rudi wat jou vierkantig in die oë kyk en elke vraag dadelik beantwoord, vanuit ’n diep plek. Dis ’n doelgerigte Rudi wat vir 21 jaar musiek maak en liedjies skryf wat mense se lewens verander.

Hy gesels sku oor die kunstenaars vir wie hy al treffers geskryf het. Dis bekende name soos dié van Juanita du Plessis, Andriëtte, André Venter, Jennifer Zamudio en Cordelia, om net ’n paar te noem.

Meer as sewehonderd liedjies – wat uit sy pen gevloei het – is al die wêreld ingestuur en baie daarvan het vir sangers loopbane in die musiekbedryf oopgekap.

Elke liedjie is vir hom soos ’n geskenk in ’n kersfeeskous, elkeen spesiaal, maar tog is sy nuwe enkelsnit, Hobo Hallelujah vir hom anders. Anders in die sin dat Rudi sy hele hart en siel in woorde en melodie gestort het om elkeen wat daarna luister, en moontlik in ’n soortgelyke situasie vasgevang is, te help sien dat daar altyd ’n uitweg is.

Saam met die enkelsnitvrystelling het Rudi ook ’n spesiale musiekvideo vir die lied verfilm. “Ons het ván my ondersteuners gevra om in die musiekvideo te verskyn en dit was mý manier om my dankbaarheid uit te spreek vir hulle ondersteuning en om te wys daar altyd iets is om voor dankbaar te wees, ongeag of jy jonk of oud of man of vrou is. Die persoon wat in die video agter my staan is simbolies van my dankbaarheid en om te wys dat die mense wat bankvas agter my staan deel van my is. Dit stel ten toon dat almal van ons eintlik maar dieselfde is, al lyk ons anders.”

Die media het male sonder tal geskryf oor Rudi se persoonlike lewe en van die hartseer en teëspoed wat hy al ervaar het. Hy was oop en eerlik oor sy stryd met bipolariteit, maar hy wil ook hê dat mense nie nét die Rudi moet raaksien wat aan dié versteuring ly nie.

Hy vermaak sy aanhangers gereeld op TikTok met video’s waar hulle ’n heel ander kant van hom sien. ’n Ligter en komiese kant. Hierdie video’s word duisende kere geniet en gedeel. “Ek dink mense het oor die jare ’n opvatting van my geskep dat ek nét ernstig is, omdat ek bipolêr is, en ek wil vir mense ook die ander deel van my persoonlikheid wys. Ek kan vermaak, ek kan saam met jou huil, maar ek kan ook saam met jou dans, lag en laf wees. Ek dink ook nadat Covid begin afplat het is dit tyd om weer te lag en gelukkig te wees, ná al die uitdagings wat ons almal moes trotseer.”

Rudi deurkruis tans die land met sy splinternuwe vertoning: “Van my wysie af”. Sy repertoire sluit liedjies in wat hy vir ander kunstenaars geskryf het en hy deel ook die stories agter hierdie liedjies. Die pragtige Sewe Oseane en Tussen Woorde is ván die treffers wat Rudi met sy gehoor deel. Dié liedjies is al in ander lande en tale opgeneem en het bekendheid in daardie lande verwerf.

Hobo Hallelujah is ’n goedvoel-liedjie wat jou wil laat saam sing, jou vir ’n oomblik laat vergeet van die moeilike tye en laat besef dat daar wel ’n lig aan die einde van elke donker tonnel is. Die lied en video is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Hobo Hallelujah is beskikbaar op alle digitale platforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!