Die lewe deel daagliks houe uit wat ʼn mens soms namens jou geliefdes ook moet vat – iets waarvan die sanger en liedjieskrywer Ruan Josh eerstehandse ervaring het.
Ruan se splinternuwe enkelsnit Vat Die Houe is ʼn kontemporêre snit met diep lirieke wat handel oor die uitdagings wat ʼn mens elke dag in die gesig staar.
“Ons bevind onsself gereeld op plekke waar ons veroordeel word deur mense, al ken hulle nie eers die volle waarheid nie. Hulle gee jou nie kans om te verduidelik en jou kant te stel nie en meeste kere is dit net beter om stil te bly en die houe te vat,” verduidelik Ruan die boodskap van Vat Die Houe.
“Ons almal vat houe vir ons geliefdes en ons hoop dat hulle eendag sal besef hoeveel jy opgeoffer het vir hulle en hoeveel houe jy moes vat om hulle tot ʼn mate veilig te hou.”
Ruan het die liedjie saam met Pierre Rossouw geskryf. Dit is geïnspireer deur Ruan se eie, persoonlike ervaringe in die verlede.
Daar was baie moeilike keuses wat hy moes maak waar hy van homself moes vergeet en kies wat beste is vir die groter prentjie, sê Ruan.
“Mense het opinies gehad en hulle was soos wolwe, maar ek het besef ek moet net vas staan en op kyk.”
Ruan glo luisteraars sal vereenselwig met die treffende lirieke en melodie van Vat Die Houe en glo die liedjie sal mense laat dink en besef dat ons almal maar saam deur dinge gaan.
Die musiekvideo vir Vat Die Houe het ʼn eenvoudige konsep, met ʼn enkelskoot van Ruan wat in die kamera sing. Dit is saam met Donovan Ekron geskiet by sy ateljee in Waterkloof, Pretoria.
Vat Die Houe is die volgende enkelsnit vanaf Ruan se splinternuwe vollengte album getiteld Wysers. Dit volg op die treffer-oorwurm Ligte Af, wat vroeër vanjaar uitgereik is.
“Ek is baie opgewonde hieroor, want ek voel dis my beste werk tot dusver.”
Kyk die musiekvideo hier:
Meer oor die kunstenaar:
Ruan Josh is al 14 jaar voltyds in die musiekbedryf doenig. Hy is sedert sy kleintyd versot op musiek en het in ʼn musikale huis grootgeword waar ʼn liefde vir country en Afrikaanse musiek by hom gekweek is.
Ruan geniet dit om in die natuur te wees en kan vir dae aaneen op sy eie klaar kom. Hy skerts en sê sy eie geselskap is sy gunsteling-geselskap.
Hy put inspirasie uit verskeie ander kunstenaars, maar sê hy sal nog graag saam met die groepe Posduif of Rubber Duc wil werk.
Hy sal ook altyd saam met sy ma en suster, die sangeresse en liedjieskrywers Juanita en Franja du Plessis, wil optree.
As hy nie meer in die musiekbedryf werksaam is nie, sal hy homself voltyds op boerdery toespits. Ruan is tans besig met ʼn nuwe album en ʼn groot Afrikaanse projek waaroor hy nog nie te veel kan verklap nie. Hy is ook bestuurder van sy platemaatskappy se inhoud.
Die album “Kaalvoetkind” saam met Juanita en Franja du Plessis het platinumstatus bereik met ʼn verkope van meer as 20 000 on-demand streams en aflaaie en fisiese verkope gesamentlik. “Just an illusion”, ook saam met Juanita en Franja du Plessis, het multiplatinumstatus bereik met
meer as 100 000 eenhede on-demand streams, aflaaie en fisiese verkope gesamentlik. Ruan se debuutalbum “Eggo” het goue status bereik met ʼn verkope van 15 000 eenhede. “Provider” vaar steeds baie goed en is al meer as 2,3 miljoen keer gestroom oor alle platforms.
Vat Die Houe is beskikbaar op alle digitale platforms.