Alba V het pas van Hollywood teruggekeer met ’n internasionale musiekkontrak deur die platemaatskappy, Upscale Records, nadat sy aan die Wêreldkampioenskap vir uitvoerende Kunste (WCOPA) deelgeneem het. Dié platemaatskappy van die bekroonde musiekvervaardiger, Manny Mijares, is ook dieselfde een wat in 2017 vir Stefan Bezuidenhout, wat nou bekend staan as Stefan Benz, ’n kontrak aangebied het. 

“Ek is so opgewonde en kan nie glo dat dit met my gebeur het nie,” het Alba vertel.  

Volgens haar moet sy haarself nog elke nou en dan herinner dat dit wél gebeur het en sy vertel vinnig dat dit alles nét deur die Here moontlik gemaak is.  

Alba, dogter van die sangeres Nadia Vorster, het gedurende 2019 aan Laerskool Baanbreker se Revue deelgeneem en ‘n duet gesing.  Dit was juis daar waar dr Ellen Roux, haar raakgesien het en genader het om aan die nasionale rondte van SACOPA (Suid Afrikaanse kampioenskappe van uitvoerende kunste) deel te neem.  Sy het reeds in 2020 en 2021 by SACOPA al gekwalifiseer om deel te neem aan die WCOPA maar as gevolg van die koronavirus kon dié kampioenskappe eers weer vanjaar plaasvind.  

Dié talentkompetisie is al beskryf as die Olimpiese Spele vir dansers, sangers, akteurs, modelle en instrumentaliste tussen die ouderdomme van 10 tot 40 jaar. ’n Totaal van 28 lande het hierdie jaar teen mekaar meegeding.  

Die hoogtepunt van dié kompetisie is egter ook die feit dat die beoordelaars almal self in die onderskeie industrieë in Hollywood werksaam is en die kans om deur die “regte” persone raakgesien te word, is dus soveel groter.  

“Mooi vriendskappe is gebore uit die tyd saam met die span en dit is ’n tyd wat ons altyd sal koester,” het Nadia vertel. 

Nadat Alba aan die eerste rondte deelgeneem het, het sy deurgedring na die semi-finaal.  

Alba het aan 10 verskillende genres deelgeneem en elke optrede kon slegs 60 sekondes wees.  

“Dit was moeilik maar ek ek het dit so geniet en regtig probeer om myself net in die oomblik in te leef,” het Alba vertel.  

Daarna het hulle bietjie vrye tyd gehad en kon bietjie na bekendes se huise gaan kyk in Hollywood.  

“Ons was saam met ’n toergids op ’n bus en ek het geen selfoonsein gehad nie,” het Nadia vertel.  

“Toe ons uiteindelik by die restaurant kom vir middagete en my foon weer opvangs het, het die boodskappe deurgekom en almal was op soek na ons,” vertel sy verder.  

Dit is tóé wat dr. Ellen Roux, wat alreeds vir 25 jaar organiseeder van die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste is, dringend met Nadia gesels en vra dat hulle dadelik terugkeer na die hotel. 

“Mens is eers bekommerd en wonder wat gaan aan,” het Nadia gelag. 

Daar aangekom, word die nuus toe meegedeel dat Manny Mijares vir Alba raakgesien het en ’n kontrak wil aanbied. 

Ook sý beklemtoon dat sy en haar man, Pierre Vorster, gebid het om die Here te vra of dit die regte besluit is om te gaan en indien wel, dat Hy Sy wil sal laat geskied.  

“Dit was ’n duidelike oomblik van ‘die taak is voltooi’ en dat die Here se doel met ons deelname en harde werk geopenbaar was,” het Nadia vertel.  

Hulle het toe as gesin na afloop van die kompetisie saam in Orlando gaan vakansie hou en dit is dáár wat sy en Pierre toe besluit het om die kontrak te aanvaar.  

Volgens Pierre is hy baie trots op Alba alhoewel dit vir hom as ’n berskermde pa nie ’n maklike besluit is om te neem nie.  Hy is wel opgewonde om hierdie nuwe pad saam met sy dogter te stap. 

“Manny het reeds vir ons musiek gestuur en die styl verduidelik wat hy vir my ingedagte het,” het Alba vertel. 

“Ek is so opgewonde met hoe hy my persoonlikheid en sangstyl opgesom het. Hulle skryf nou verder aan my musiek en ek sal teen die einde van die jaar reeds begin opneem,” het Alba vertel.  

Intussen fokus Alba, huidiglik ’n Graad 8-student van Helpmekaar Kollege, nou op haar skoolwerk terwyl sy met ’n geruste hart kan weet – die vrugte van harde werk sal wel op die regte tyd gepluk word.  

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!