Die eerlike en pretensielose sanger en liedjieskrywer MJ Nel sê self hy is obsessief oor musiek. Daarom is hy slaggereed om die Afrikaanse musiekbedryf met mening te tref met sy debuut-kortalbum getiteld Obsessief.

Die album bevat ses oorspronklike Afrikaanse snitte, alles uit die musikant se eie pen. Elkeen van die snitte, getiteld “Elke keer as ek om kyk”, “Môre”, “Obsessief”, “Ry saam my”, “Slaap” en “Weer te veel gesê”, weerspieël ‘n greep uit die kunstenaar se lewensverhaal.

“Met elke liedjie probeer ek ‘n sekere gevoel of emosie vasvang en ontleed deur daaroor te skryf. Natuurlik is daar verhale van liefde, verlies en avontuur soos enige goeie singer-songwriter oor sou skryf, tog is daar meer abstrakte temas en simbole te vinde sodra ‘n mens onder die oppevlakte begin delf,” verduidelik MJ .

Volgens MJ is die genre van die album moeilik om te beskryf, aangesien elke liedjie anders klink as die vorige een.

Die genres wissel egter van dark-country, tot klavierballade tot pop en hip-hop en die  kunstenaar het deur die skeppingsproses van die album gefokus op die liedjieskrywery.

MJ het self elke liedjie se komposisie, lirieke, verwerking en produksie behartig, maar deur die jare het verskeie vriende en mede-musikante bygedra in die vorm van lirieke, inspirasie en instrumentasie.

Hoewel die kunstenaar erken hy het vir homself ‘n reusetaak as onafhanklike kunstenaar opgestel deur die album self te skryf en vervaardig, het dié jarelange droom uiteindelik ‘n werklikheid geword.

“My hele lewe lank dink ek aan hoe die publiek my musiek gaan ontvang en tot ‘n mate het daardie oorweging in die pad van my kreatiwiteit gestaan. Ek glo ek het losgebreek van die publiek se verwagtinge.”

Die kunstenaar glo luisteraars sal veral aanklank vind by die titelsnit, “Obsessief”, aangesien dit ‘n eerlike, toeganklike en luisterbare snit is.

“Ek hoop dat hierdie kortalbum deur mense geniet kan word en hopelik hulle aanmoedig om ‘n lewendige vertoning by te woon, waar hierdie liedjies werklik lewendig raak!” sê MJ .

MJ, wat ook ‘n liefde vir videografie het, het besluit om die musiekvideo vir “Obsessief” self te maak. Hy beplan om vir elkeen van die snitte op die album ‘n video te maak wat by die styl en storie van die liedjie pas.

MJ Nel | Foto: Verskaf

Volgens die liedjieskrywer het hy reeds tydens sy universiteitsjare van die liedjies neergepen, soos “Môre” wat in 2016 geskryf is en in 2018 deur sy universiteitsorkes uitgevoer is.

“Obsessief” het begin as ‘n oorspronklike acapella-medley wat hy vir een van die Sêr-groepe geskryf het wat hy by die Noordwes Universiteit afrig. Die temas in “Obsessief” is almal musikaal van aard en die lirieke is baie metafories en tematies, maar hy het meestal gefokus op
die melodiese motiewe en temas.

“In die kortalbum sal jy vind dat daar baie woorde is wat in liedjies herroep word en in verskillende kontekste gebruik word om hulle te ontwikkel. Byvoorbeeld ry, paaie, tyd en beweging is amper in elke liedjie en die simbole kom tot die einde van hul reis in die laaste
liedjie “Ry Saam My”, wat letterlik oor ry, paaie, beweging en avontuur gaan.”

Meer oor die kunstenaar:

MJ Nel is ‘n sanger, liedjieskrywer, vervaardiger, komponis en multi-instrumentalis wat as beroepsmusikant vir die afgelope 7 jaar as skrywer, verwerker, vervaardiger en sêr-afrigter werksaam is.

Hy het ook vir jare saam met die universiteitsorkes Glimpse opgetree in Potchefstroom saam met van die grootste name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

MJ is gebore en getoë in Vanderbijlpark en het as laatlammetjie van sy gesig groot geword met ‘n verskeidenheid musiek, van Elvis Presley en Jim Reeves na Deep Purple, die Bee Gees en Queen. Klassieke musiek het ook ‘n groot rol in sy lewe gespeel.

Hy het jare lank gesing in skoolrevues, op kerkbasaars en om kampvure, en het uiteindelik sy studies vir ‘n graad in rekeningkunde gestaak omdat musiek die oorhand in sy lewe gekry het.

MJ Nel | Foto: Verskaf

Op eie bodem is Spoegwolf en Joshua na die Reën sy musikale inspirasies, en internasionale kunstenaars soos Justin Vernon van Bon Iver en The 1975, asook liedjieskrywers soos Ryan Tedder, John Mayer, Chris Martin, Bob Dylan, Paul Simon hom.

MJ beskryf sy stem en styl as indie folk met ‘n groot stem en pop-instrumentasie. Hy tree tans op by elke verhoog en fees wat hom sal toelaat, en hy werk in sy eie ateljee aan verskeie opkomende kunstenaars se musiek. Hy rig ook nog steeds sêr af en verwerk musiek vir kore en allerhande ander projekte.

As skrywer het hy al ‘n totaal van agt oorspronklike komposisie-toekennings verower in die afgelope vier jaar by die NWU se Enkelsêr-kompetisies en Eertsejaarskonserte, asook beste voorgeskrewe – en multikulturele verwerkings.

As afrigter het hy al saam met ten minste 30 verskillende groepe, kore en produksies gewerk en meer as 100 verwerkings en komposisies geskep in die laaste vyf jaar.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!