“Almal het die een of ander tyd in hulle lewens skuiling nodig by iemand wat hulle laat veilig voel, al is dit nie noodwendig ʼn fisiese skuiling nie, maar meer emosioneel,” verklap die sanger en aktrise, Nicky de Kock, oor die inspirasie agter haar nuutste enkelsnit. “Ek is self baie familievas en ons staan almal altyd bymekaar as dinge sleg gaan.”
Skuiling, ʼn hartroerende lied uit die pen van Johan Oberholzer, vertel die storie oor ʼn baie spesiale persoon in jou lewe wat jou altyd help en laat veilig voel; dit spreek van die tipe liefde en veiligheid wat ʼn mens net by ʼn ouer, hartsvriend of lewensmaat kan kry.
Dié veelsydige kunstenaar glo dat die publiek van haar nuutste vrystelling sal hou, omdat dit ʼn betekenisvolle liedjie is, wat lekker is om na te luister en mee saam te sing. Die tema behoort ook aanklank te vind by ʼn wye gehoor.
Nicky het die vermaakbedryf op ʼn jong ouderdom betree. Sy het haar eerste album opgeneem toe sy elf was, waarna sy deur die loop van die jare nog musiek uitgereik het. Noudat sy agtien is, meen sy dat die vrystelling van Skuiling nodig is om haar loopbaan in ʼn splinternuwe rigting te stuur.
“My grootste musiek-hoogpunt was toe ek in 2017 deel was van die Kleurvol-produksie op die kykNET-verhoog by die KKNK en van ons land se beste musikante, waaronder Mauritz Lotz en Jaconell Mouton, deel van my orkeslede was,” deel Nicky oor haar hoogtepunte. “Dit was ook vir my ʼn groot hoogtepunt toe ek die geleentheid gehad het om die jonger weergawe van Donnalee Roberts se karakter, Nina, te speel in Vir Altyd.”
Omdat die passievolle sangeres nog baie jonk was toe sy redelik bekend geword het, was sy die slagoffer van boeliegedrag – hoofsaaklik kuberboelies. Sy het dit wel oorkom deur ʼn liedjie saam ʼn paar musiekvriende op te neem, genaamd Staan Saam Soos Een. Dit het ook gelei tot onderhoude met KFM, RSG, Expresso en Huisgenoot.
Die vermaakbedryf is nou maar een maal in Nicky se bloed: haar naaste familielede was almal op verskeie maniere betrokke in die industrie. Dit was egter op tienjarige ouderdom by ʼn Steve Hofmeyr-konsert wat Steve haar aangeraai het om aan ʼn sangkompetisie deel te neem, waar sy haar bestuurder, Louis, ontmoet het.
Die sanger, Early B, inspireer haar en sy sal graag nog saam met hom wil werk omdat daar ʼn koel en vars energie aan sy musiek is. Sy vind ook aanklank by Ed Sheeran se styl en mik daarna om dieselfde tipe goedvoel-musiek vir haar aanhangers aan te bied.
Skuiling is beskikbaar op alle digitale platforms.

