Die sokkiemusiek legende, Nicholis Louw is terug met ‘n splinternuwe dansliedjie, “Oents Oents Oents,” wat sekerlik die partytjie sal aansteek. Hierdie jongste enkelsnit, wat op 6 Desember 2024 op digitale platforms beskikbaar sal wees, bring die kenmerkende Nicholis-klank wat sy aanhangers deur die jare leer ken en liefhet.

Die inspirasie vir “Oents Oents Oents” kom van ‘n herinnering wat jare gelede ontstaan het toe Nicholis se vrou, toe nog sy meisie, die woorde “Oents Oents Oents” op Facebook gedeel het, beskryf as die opwindende ritme van dansmusiek. Nicholis sê: “Ek het toe al geweet ek wil iets met daardie idee doen, maar die regte melodie en struktuur het eers vanjaar na my toe gekom.” Nou, na 21 jaar in die musiekbedryf, voel hierdie liedjie soos die perfekte samekoms van sy ervaring en kreatiwiteit.

Oents Oents Oents” is nie bedoel om diep of nostalgies te wees nie; dit is ‘n lied wat gaan oor die lekkerkry en die speelse dinamika van ‘n verhouding tussen verliefdes. Nicholis verduidelik: “Dis ‘n liedjie wat jy saamsing, saam dans, en sommer net geniet. Ek hoop mense kan hulle net laat gaan en die ritme omarm.” Hierdie somer-treffer beloof om die ideale musiek te wees om in die vakansie saam met vriende en familie te geniet.

Met meer as twee dekades van musiekervaring, bring hierdie snit die klassieke Nicholis Louw-klank na vore, vol energieke melodieë en lirieke wat aanhangers onmiddellik sal herken. Dit is die resultaat van ‘n kreatiewe samewerking tussen Nicholis en Robin Kielly, wat die lied geskryf het. Nicholis deel ook met ‘n glimlag: “Sy is die muse, en dit maak die liedjie vir my ekstra spesiaal.”

Met die ondersteuning van VONK Musiek en ‘n hart vol nuwe idees, belowe Nicholis dat “Oents Oents Oents” net die begin is. “Daar is nog baie musiek wat kom, en ek sien uit om hierdie reis saam met my aanhangers voort te sit,” sê hy.

Maak seker jy voeg “Oents Oents Oents” by jou gunsteling-speellys en deel in die vreugde en energie wat net Nicholis Louw kan bring. Kom dans saam op hierdie unieke treffer wat die somer skitterend afsluit!

Kyk die musiekvideo hier:

Leave a Reply

error: Content is protected !!