Na die sukses van haar debuut-enkelsnit, Plaasmeisiekind, bou Marisa verder aan haar musiekdroom met die vrystelling van haar eerste kortspeelplaat, Alles Vir Jou.

Volgens dié spontane blondine wou sy nog altyd ’n sangeres wees en op die ouderdom van sewe-en-dertig kon sy hierdie wens uiteindelik amptelik verwesenlik.

Alles Vir Jou was die heel eerste liedjie wat ek geskryf het en ook die inspirasie vir die album,” verklap sy. “Die lirieke het God een middag op my hart kom graveer toe ek op moedverloor se vlakte was. Ek het dit in my binneste gehoor en besef ek moet dit neerskryf, en só is die lied gebore. Die Here het dit alles vir my gedoen en daarom wil ek Hom al die eer gee met hierdie album.”

Die kortspeelplaat bestaan uit ses pragtige kontemporêre snitte, wat haar vernuf as musikant en liedjieskrywer behoorlik ten toon stel. Al die liedjies kom uit haar pen en is deur Hansie Roodt getoonset en deur Tjaart van der Walt vervaardig.

“Elke lied vertel ’n storie, leer ’n les, gee nuwe moed en los jou siel met onvoorwaardelike hoop. Dis ’n lekkerluister-vrystelling, wat vrolike dansmusiek kombineer met dieper snitte wat met die hart praat,” verduidelik die kunstenaar oor die inhoud wat so sorgvuldig saamgestel is.

Alhoewel sy nie graag ’n gunsteling wil uitsonder nie, glo sy dat Pienk die potensiaal het om ’n baie groot treffer te wees. “Die lied lê my na aan die hart, omdat dit so ’n mooi betekenis het. Ek glo elke vrou op aarde het iets spesiaal binne haar wat die moeite werd is om raak te sien,” vertel sy. “As ons werklik moeite doen om die hart van die vroue rondom ons te verstaan sonder om te oordeel, sal die wêreld ’n beter plek wees. Pienk herinner ons om eers te dink voordat ons praat, om mooi te luister en met oë vol genade na ander te kyk.”

Open in Spotify

Marisa het eers twee jaar terug professioneel begin musiek maak en verklap dat sy dit baie geniet het om tyd in die ateljee te spandeer om haar liedjies op te neem.

Buiten vir die kerk se orkes, het sy ook verskeie ander optredes by funksies en ander geleenthede op haar kerfstok.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n voltydse tuisteskepper, vrou en ma van twee, wat lief is vir die Here en dit geniet om ’n veilige en liefdevolle hawe vir haar gesin te skep. Sy hou ook so nou en dan haar lyf grafiese ontwerper waar nodig.

Marisa erken dat sy iemand is wat haar hart op haar mou dra en met Alles Vir Jou hoop sy om ’n blywende impak op luisteraars se lewens te hê.

“Ek kan nie altyd by almal uitkom om hulle moed in te praat of raad te gee nie, maar met musiek wat iets beteken kan ek iemand se lewe verander. My geheim is om te wag vir God om die regte woorde en melodieë oor my pad te bring en te vra dat dit op die regte ore sal val,” sluit sy af.

Alles vir Jou is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!