Mari Bosman het onlangs haar nuutste enkelsnit, Hanna, vrygestel – ‘n vrolike en energieke lied wat die volle krag van die Afrikaanse vrou ten toon stel. Hanna is ‘n tong-in-die-kies snit wat die storie vertel van ‘n vrou wat met selfvertroue haar plek in die “mannewêreld” vind, of dit nou visvang, kolskoot skiet of ‘n vuurmaak is. “Wat die manne kan doen, kan ons boere’nonnatjies ook doen!” sê Mari, wat trots is op die boodskap wat die lied uitstraal.

Met haar kenmerkende mengsel van humor en diepte het Mari Hanna geskryf as ‘n loflied vir die onafhanklike vrou. Die lied herinner luisteraars daaraan dat vrouens se rolle ver buite die tradisionele kombuis rol en dat hulle in enige situasie kan uitblink. “Ek wou ‘n liedjie skryf wat wys hoe vrouens nie net agter die stoof staan nie,” verduidelik Mari. “Ek glo dit gee baie vrouens die selfvertroue om hul eie dinge te doen.”

Die lied is vervaardig deur Tertius Human en het ‘n tradisionele Afrikaanse klank wat ideaal pas by die somer- en vakansiegevoel. “Tertius het regtig my visie verstaan,” sê Mari. “Hierdie liedjie laat mens se voete jeuk vir die dansvloer!” Die lirieke bring nostalgie na vore en is vol plaaslewe-inspirasie, wat Mari se eie agtergrond as ‘n “plaasmeisie” weerspieël.

Vir Mari was die proses om Hanna te skryf ‘n opwindende stap na iets meer kommersieël. “Ek het ‘n ander kant van my skryfvermoëns ontgin,” vertel sy. “Dis ‘n liedjie wat ‘n ander kant van my as kunstenaar wys, en ek hoop luisteraars geniet dit net soveel as wat ek daarvan hou.”

Mari hoop dat Hanna mense sal laat glimlag, goed voel, en sommer lekker sal laat dans. “Ek wil hê mense moet hierdie liedjie oor en oor speel en net lekker kuier,” sê sy met ‘n glimlag.

Kyk die musiekvideo hier:

Hierdie energieke snit is slegs die begin van ‘n opwindende jaar vir Mari. Sy beplan om ‘n ballade in Februarie 2025 vry te stel en beoog ‘n spesiale lied in Mei ter viering van die 100-jarige herdenking van Afrikaans.

Met lirieke soos “ek kan visvang en ‘n tyre ruil, kan kolskoot skiet en saggies huil…” versterk Hanna die boodskap dat vroue nie net onafhanklik is nie, maar ook trots kan wees op hulself en hul vermoëns. Mari bring ‘n vars, humoristiese benadering na die Afrikaanse musieklandskap, wat vroue aanmoedig om trots te wees op wie hulle is en wat hulle kan doen.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!