Lisie Basson is terug met haar nuutste enkelsnit, Klaar Geweet, en betower weereens haar gehoor met haar unieke klank. Bekend vir haar deelname aan die tweede seisoen van Die Kontrak, het sy in 2023 groot opslae gemaak met haar debuutsnit, “#23,” wat wyd oor radiostasies gespeel is. Hierdie snit het nie net haar gehoor betower nie, maar ook vir haar ’n benoeming vir ’n Aitsa Afrikaanse Musiektoekenning in die kategorie Alternatiewe/Rock Liedjie van die Jaar besorg.
Lisie beskryf haar benoeming as ’n bron van inspirasie wat haar verder aangespoor het om as kunstenaar te groei en meer musiek te skryf. Hierdie kreatiewe momentum het nou gelei tot die vrystelling van “Klaar Geweet,” ’n liedjie wat sy beskryf as lig en vrolik, met die doel om luisteraars se aandag onmiddellik te trek en hul te laat dans. Die liedjie handel oor die gevoel van sekerheid wanneer jy iemand ontmoet en net weet hulle gaan ’n groot rol in jou lewe speel. Sy het hierdie liedjie saam met die jong liedjieskrywer Bella Coleske geskryf.
Saam met die vrystelling van Klaar Geweet kom ook Lisie se eerste musiekvideo, wat deur die bekroonde Eric T Graham en Tehan Buys verfilm is. Die video bied ’n persoonlike kykie in wie Lisie Basson as kunstenaar is. Sy het vir Georic Lomas, iemand wat haar musikale reis al lank volg, die regie van die video toevertrou, en hy het voorgestel dat die video die ware Lisie wys – soos sy regtig is op die verhoog.
Lisie kyk ook terug op haar deelname aan Die Kontrak en erken dat dit ’n vormende ervaring vir haar musiekloopbaan was, ten spyte van die aanvanklike teleurstelling toe sy in die top-4 uitgeval het. Sy het egter besef dat hierdie ervaring haar op die regte pad geplaas het. “Ek het nie daardie tyd geweet wie Lisie Basson is nie, maar nou weet ek,” sê sy met selfvertroue.
Met 2025 wat nader kom, het Lisie groot planne vir die toekoms. Sy beplan om aan te hou skryf en soveel musiek as moontlik te skep. Haar kreatiewe reis is nog lank nie klaar nie, en sy is gereed om die musiekbedryf met oorgawe aan te pak.