Leon-Ben Lamprecht, ‘n joernalis en binnekort kinderboekskrywer, het onlangs sy nuwe enkelsnit, Vyeboompiekniek (13 jaar), vrygestel. Die liedjie is ‘n persoonlike huldeblyk aan sy vrou vir hul 13de huweliksherdenking. Dit is ‘n pop-rock opname met invloede van rock, punk, folkrock en bluesgrass.
Die woorde en musiek is deur Leon-Ben geskryf. Almuir Botha van Blackroom Studios in Wellington het die res van die opname geproduseer en opgeneem. Botha, wat voorheen kitaar gespeel het vir Delta Blues en Jakkie Louw, is ‘n banjospeler by uitnemendheid en kan op Leon-Ben se ander liedjies gehoor word.
Leon-Ben het grootgeword in Hartenbos, ‘n kusdorpie in die Wes-Kaap. Hy beskryf sy musiekstyl as “As Blink182 van Hartenbos was”, met ‘n sterk fokus op die storievertelling en die skryfproses. Hy probeer om trou te bly aan sy eie stem, selfs as hy musikale elemente uit verskeie genres kombineer.

Leon-Ben het al ‘n verhoognaam oorweeg, maar het besluit om sy eie naam te gebruik, omdat hy alreeds bekend is as ‘n joernalis en kinderboekskrywer onder sy eie naam. Sy volgende kinderboek sal in September uitgereik word.
Vyeboompiekniek (13 jaar) is ‘n intieme en persoonlike liedjie wat universale temas van liefde en herinneringe hanteer. Met Lamprecht se unieke styl en estetika is dit ‘n liedjie wat gehoor moet word.
Vyeboompiekniek (13 jaar) is beskikbaar op alle digitale platforms.