Lallie - Lekker in Suid-Afrika

Die plaasmeisie, Lallie, is terug met haar tweede enkelsnit Lekker in Suid-Afrika, wat vandag vrygestel word op alle digitale platforms.

Lekker in Suid-Afrika kan beskryf word as ‘n lekker saamsing en kuierliedjie wat perfek geskryf en vervaardig is vir braai en samesyn. Die Afrikaanse Popsnit sal beslis die gemoedere lig.

Hierdie liedjie volg in die voetspore van Lallie se debuut enkelsnit, Boereraat wat in November 2021 vrygestel was. Lallie vertel dat haar nuwe enkelsnit heeltemal iets anders is. Sy en ‘n vriendin het die lirieke geskryf.  “As ‘n onafhanklike kunstenaar, moet mens uit die boks uit dink en kreatief wees, so het Lekker in Suid-Afrika ontstaan.” Joshua Oosthuizen van Oriison is die vervaardiger van die snit.

Lekker in Suid-Afrika maak gebruik van slim woordspeling van bekende handelsmerke, sowel as bekende kunstenaars en hulle liedjies wat die uniekheid van Afrikaanse musiek vasvang. Die lirieke bring warmhartige herinneringe op van liedjies wat almal sal ken.

Lallie Foto: Verskaf

Lallie kom uit ‘n musikale familie so dis net natuurlik dat sy in die musiekbedryf op geëindig het. “Van ek kan onthou, het my Pa kitaar gespeel en ons altyd as gesin saam gesing.” En wat sou sy gedoen het as sy nie in die musiek bedryf was nie? “Ek sou beslis geboer het” sê sy vinnig. Lallie het grootgeword op ‘n plaas in die Noord-Wes provinsie. Lallie kan kitaar speel asook ‘n bietjie klavier, bieg sy.

Musikale inspirasie kom van alle musikante vir Lallie, sy kan nie iemand uitsonder nie, aangesien elke kunstenaar uniek is in hul eie manier. Haar musiekloopbaan is haar lewenslange droom. “Niemand het my gedryf tot waar ek vandag is nie. Ek het baie mense wat my ondersteun in my musiek, maar my ambisieuse gees en die groot begeerte om te doen waarvoor ek so bitter lief is, is my dryfkrag.”

Van Lallie se gunsteling ouderwetse kunstenaars noem sy name soos Laurika Rauch, Don Williams, The Bellamy Brothers, “Hulle liedjies het ‘n manier om stories aan jou te vertel.” Met meer onlangse kunstenaars word groot name in die bedryf genoem soos Brendan Peyper en Riaan Benade.

Sy het haar eerste optrede op ‘n 5-jarige ouderdom gedoen en vandaar het dit gesneeubal.  Lallie se genre kan nie vasgepen word nie, sy sing graag Afrikaanse Pop, Country en 80’s.  Solank dit die hartsnaar roer sal Lallie dit sing.

Hoe verloop ‘n normale dag vir hierdie boeremeisie wat deesdae Pretoria haar tuiste noem? “Ek word wakker, maak vir my koffie en gee liefde aan my plantjies, kruie en groentetuin – ek het groen vingers. As ek nie ‘n vertoning het nie, spandeer ek meeste van my tyd in my musiek studio – werk aan nuwe musiek- sing, skryf en lawaai. Aan die einde van my dag, steek ek ’n vuurtjie aan, haal my 6 snaar vriend uit en dan begin die groot gesels.”

En wat is Lallie se raad vir nuwe kunstenaars?

Jy is uniek! Moet nooit opgee op jou drome nie, bly konsekwent en geniet wat jy doen. As jy op jou knieë bly, kan jy nie struikel nie.”

Wat hou die toekoms in Lallie? “Ek het ‘n klompie nuwe musiek opgeneem, hou gerus my sosiale media dop om te sien wanneer dit vrygestel word.”

Lekker in Suid-Afrika is beskikbaar op alle digitale platforms.

Laai die snit hier af: https://linktr.ee/lalliemusic

Sosiale Media:

  • Facebook: @Lallie4
  • Instagram: Lallie_musiek
  • TikTok: @Lallie_musiek

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!