Splinternuwe klavierweergawes van vyf snitte wat onlangs op Almero se volledige album, ʼn Brein met ‘n Bloukol, verskyn het, is pas op ‘n kortalbum getitel ʼn Brein met ‘n Bloukol (Klavierweergawe) uitgereik.

Die vyf snitte wat op die kortalbum te hoor is, is “Babel”, “Teletubbies”, “Pietie Beyers”, “ʼn Brein met ‘n bloukol” en “Voorskrif”. Hierdie snitte bevat diep temas oor geestesgesondheid. Die album is vervaardig deur Nico Welgemoed en Austin Hulme.

“Ons wou weergawes van hierdie liedjies vrystel wat klink soos dit aanvanklik geklink het, voor ons dit vervaardig het: rustig en somber. Meeste liedjies begin so, net ek en die klavier,” sê Almero.

Die temas op die album sluit geestesgesondheid en onderwerpe soos depressie en angs, asook die menslike kondisie in. Die titel van die album verwys effens tong-in-die-kies na die skrywer se ervaring van onder andere angs en emosies wat soms moeilik is om te verwoord.

“ʼn Mens is geneig om te voel asof daar dalk iets fout is met ‘n mens in tye van groot hartseer, asof jou brein ‘n onsigbare bloukol het. Ek is van kleins af vreeslik opgevang in my emosies en as gevolg daarvan kan ek baie angstig en moedeloos raak,” verduidelik Almero. “Die album is deels ‘n vertelling van my ervaring hiervan, maar ook ‘n vertelling van die dinge wat daardie ‘bloukol’ veroorsaak het en ook genees het.”

“Al is dit soms moeilik om oor hierdie onderwerpe te gesels, dink ek dit is heelwat meer algemeen as wat ons vermoed. Ons almal het dae vol hartseer en tydperke waar dinge donker lyk. Ek glo as ons die vrymoedigheid het om daaroor te gesels, kan ons die ingewikkelde en swaar emosies bietjie meer draaglik maak,” sê Almero.

ʼn Brein met ‘n Bloukol (Klavierweergawe) is nou beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk die musiekvideo hier:

Almero Welgemoed is ‘n sanger, liedjieskrywer, draaiboekskrywer, digter en visuele kunstenaar, gebore en getoë in die hartjie van die Vrystaat, Bloemfontein. Hy woon tans in Johannesburg waar hy ‘n voltydse musikant, draaiboekskrywer en illustreerder is.

Hy het in 2016 sy debuut as liedjieskrywer en musikant gemaak met ‘n kortalbum (EP) in samewerking met Bouwer Bosch, met die hoogaangeskrewe enkelsnit “Vuurvas”. Sedertdien werk Almero voltyds as liedjieskrywer vir sy eie werk sowel as ander kunstenaars.

In 2018 het Almero sy debuutalbum Maandag vrygestel, wat wye erkenning ontvang het en Almero gevestig het as ‘n kunstenaar om in die musiekbedryf dop te hou. Sy musiek is sedertdien op gewilde radiostasies te sien, en hy het by bekende lokale en feeste regoor die land opgetree.

In 2021 het Almero sy tweede volledige album, Junie, uitgereik, gevolg deur ‘n kortalbum (EP) getiteld Selfhelp, die lig. Beide albums het lof ontvang vir die steeds ontwikkelende styl, wat bewys dat Almero gereed is vir ‘n bestendige loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf.

Almero is ook ‘n skrywer, met publikasies soos Donderweer Gedagtes en bydraes tot verskeie bloemlesings en teaterproduksies. Hy is tans besig met die vervaardiging van musiekvideo’s vir liedjies op sy jongste album, en werk ook aan ‘n teaterstuk saam met Pietie Beyers.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!