Jolanda Fouché sing al vandat sy kan onthou, maar het onlangs eers besluit om die musiekmark amptelik te betree.
Haar eerste enkelsnit, Tree vir Tree, is pas bekendgestel en is reeds opgeraap deur van die land se grootste radiostasies.
Volgens dié talentvolle musikant sal die liedjie luisteraars motiveer om die kanse aan te gryp wat die lewe hulle bied.
“Dit gaan oor hoe iemand spesiaal tree-vir-tree in jou lewe inkom en dat jy nie bang moet wees om nuwe dinge op jou pad te probeer nie. Glo en vertrou net in jouself,” verduidelik sy oor die betekenis agter hierdie kontemporêre enkelsnit uit die pen van Anton Fitchat. “Die woorde het my dadelik laat voel dat ek in myself kan glo en die dinge, wat onverwags oor my pad kom, kan aanpak sonder om dit te oordink.”
Jolanda is al van kleins af lief vir sing en het in ’n huis grootgeword waarin daar altyd musiek gespeel het. Sy het, as klein dogtertjie, gereeld met die bottel haarsproei voor die spieël gesing en nog altyd daarvan gedroom om voor mense op te tree.
Buiten vir die geleentheid om haar eerste enkelsnit uit te reik, was dit ook vir haar ’n groot loopbaanhoogtepunt toe sy in 2021 die PHATBOYZ Ermelo Idols-kompetisie gewen het. Sy is ook binnekort te sien in die Staan Sterk In Afrikaans-konsert.
Die sangeres som haar musiekstyl op as “klassieke rock, met ’n bietjie country” en put inspirasie uit musiek wat haar emosies raak. Sy geniet ’n wye verskeidenheid genres, maar sonder kunstenaars soos Shania Twain, Juanita du Plessis en Karen Zoid uit as haar gunstelinge. Sy sal ook nog graag eendag saam met Karen en Juan Boucher wou werk.
Wanneer sy nie op die verhoog is nie, gee sy tuisonderrig vir haar kinders en behartig sy deeltyds Cassol Solar Specialists se admin. Sy werk ook hard om voor te berei vir optredes en nuwe musiek te skep.
Oor die afgelope jaar, het die musiekbedryf haar geleer om net haarself te wees en sy word elke dag meer gemaklik agter die mikrofoon.
Tree vir Tree is ’n liedjie wat by oud en jonk sal aanklank vind en is beslis die begin van ’n baie belowende musiekloopbaan vir hierdie talentvolle vrou.
Tree vir Tree is beskikbaar op alle digitale platforms.