Jennifer Zamudio is terug met ‘n nuwe enkelsnit vir 2021, As Ek Huil.
Jennifer het tydens die pandemie en inperking, beslis nie op haar louere gerus nie. Sy het twee uiters suksesvolle duette vrygestel, saam met Daar’s ‘n Rede saam met Henri Alant) en Liefdeshartaanval saam met Riaan Grobler. En getrou aan Jennifer se dryfkrag, verras sy almal met haar allemintige treffer enkelsnit Dalk in Oktober 2020, wat menige beskou het, “as een van haar grootste treffers nog”. Dalk het gesorg vir ses Nommer 1 plekke op verskeie radiostasies, waaronder een daarvan ‘n nuwe rekord opgestel het vir die langste Nommer 1 posisie op daardie betrokke stasie se Trefferparade.
Toe dit tyd geword vir ‘n nuwe enkelsnit vir 2021, het Jennifer gewonder hoe gaan sy haar vorige suksesvolle enkelsnit kan verbeter. Die antwoord het onwillekeurig gekom met al die ongewone gebeurtenisse gedurende die afgelope jaar en Jennifer het self begin skryf aan As Ek Huil. En om die liedjie perfek af te rond, vra sy toe vir Tertius BC Pretorius om die liedjie saam met haar te skryf. Tertius was ook die skrywer van Altyd Myne en Dalk. Met so ‘n wenkombinasie, kan die nuwe enkelsnit nie anders as om ook groot treffer potensiaal te hê nie.
As Ek Huil is ‘n kragtige ballade met ‘n diep hartseer ondertoon. Dit bring ook weereens die warmte in Jennifer se stem uit, wat eie is aan haar unieke singstyl. Die liedjie beloof om beslis die hartsnare te roer en mens op ‘n emosionele reis te neem. Dit gaan verseker diep aan jou binneste raak en jou laat dink aan jou eie verliese die afgelope tyd. So trek maar die sneesdoekies nader as jy luister na Jennifer se As Ek Huil en laat jouself toe om uiting te gee aan al daardie opgekropte emosies.
As Ek Huil is beskikbaar op alle digitale platforms.
Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | Linkedin