Ná die sukses van haar debuutsnit vroeër vanjaar, is Jemma Catherine terug met haar tweede enkelsnit, Almal het Iemand. Dié liedjie en musiekvideo is pas vrygestel en sal luisteraars met deernis laat dink aan die spesiale persone in hul lewens.
“Ons almal het daardie een persoon op wie jy altyd kan staatmaak en wat altyd daar is vir jou. Daardie één iemand wat altyd aan jou sy sal wees en saam jou die langpad sal aanpak,” het Jemma vertel.
Volgens haar is dit nie noodwendig nét ’n liefde waarna sy verwys nie, maar ook daardie spesiale verhoudig met ’n vriend, vriendin, ouer of familelid.
Almal het Iemand is gepen deur Janie Bay met insette van Ruan Graaff.
In dié popliedjie se musiekvideo speel die storie oor drie generasies af. “Daar is ’n tydsprong van toe hulle jonk was tot waar hulle saam oud word. Dit wys hoe hulle hul hele lewe lank mekaar gehad het en dat hulle mekaar se ‘iemand’ was waarop hulle kon staatmaak en die langpad mee kon saamstap,” het Jemma vertel.
Die musiekvideo is by Monte de Dios Venue verfilm. “Dié venue was die perfekte plek om dit te verfilm aangesien ons soveel verskillende areas benodig het om die storie uit te beeld. Die verskillende areas maak konneksies met die drie generasies waar jy dan kan agterkom dat dit dieselfde paartjie is wat saam ouer word,” het sy vetel.
DeeGraaff Productions het die produksie en verfilming behartig, asook die van die eerste enkelsnit.
“Ek dink dit is belangrik is om te besef dat jou sielspersoon of sielsgenoot nie noodwendig die persoon is waarmee jy gaan trou nie. Liefde kan in verskeie vorme kom. Jou ‘iemand’ kan enige iemand wees,” het sy verduidelik. “Daardie liefde is so kosbaar en moet vir niks verruil word nie.”
Jemma sal met dié liedjie graag wil hê luisteraars moet luister – dieper luister na die woorde en betekenis.“Baie keer luister ’n mens ’n liedjie, maar jy luister nie ten volle nie. Ek wil hê mense moet dit inneem en en vereenselwig met die woorde en musiek,” het sy bygevoeg.
Volgens Jemma is Almal het Iemand ’n kombinasie van mooi lirieke, interessante klanke en musiek.
Kyk die musiekvideo hier:
https://www.youtube.com/watch?v=MKrk9P8sL9gNa Alles Gee vroeër vanjaar vrygestel is en Covid-19-beperkings geleidelik verslap is, het Jemma die verhoog saam met verskeie groot name gedeel. Sy was deel van die gesogte Proe’toria-fees en was ook onlangs ingesluit by Jacaranda FM se The Warm Fest in Pretoria en Nelspruit. Ander hoogtepunte sluit in Spoegwolf se 10 jaar-vieringe, Francois van Coke se Aftermatch Performance (BOXOP) en ’n optrede by Dozi’s Back to the Roots.
Alles Gee was op verskeie radiogolwe se ranglyste en het amper 20 000 kyke op YouTube al bereik, iets waarop sy baie trots as nuweling is. Haar hoop is dat Almal het Iemand ook so goed ontvang sal word en sy nog diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf sal trap.
“Ek het nog ’n paar liedjies wat ek wil vrystel en ek glo dat Afrikaanse musiek besig is om ‘n nuwe tydperk te betree. Ek is verewig dankbaar om daarvan deel te wees,” het sy gesê.
Vir haar is die mense en geleenthede wat oor haar pad kom een van haar hoogtepunte.
“Ek is dankbaar om te kan werk met sulke ongelooflike mense wat regtig die beste vir my wil hê. Alles wat ek al bereik het is as gevolg van die familie van mense om my.”
Almal het Iemand is nou beskikbaar op alle digitale platforms.