Die super-gewilde baanbreker sangeres Janie Bay se`n langverwagte nuwe Engelse enkelsnit Miracles is sopas vrygestel.

Janie het beduidende mylpale oor die afgelope vyf jaar bereik met die uitreiking van verskeie Afrikaanse treffers wat onder meer “Amper Daar’; “Die Heelal met Early B”; “Jammer”; “Ek glo nog in jou” met Danie Reënwolf” en “Die Einde” met Elandré insluit. Elk van hierdie liedjes het merkbare sukses behaal met onder meer verskeie nommer 1 posisies op SA radiotrefferlyste en Bay se musiek is tot op hede, meer as 18.5 miljoen keer op digitale platforms gestrooms.

Oor hoe die inspirasie vir die nuwe liedjie Miracles ontstaan het, vertel sy: “Spotify Africa Partnership Bestuurder, Henco Harmse, het verlede jaar een van my shows bygewoon. Hy het die nuus met my gedeel dat hulle betekenisvolle verbintenisse met Spotify Nashville gemaak het en hulle graag sal wil ondersteun met vars, nuwe plaaslike Country musiek-inhoud. Henco het my toe gevra of ek daarin sou belangstel om `n country-geïnspireerde liedjie op my eie unieke manier te skryf en op te neem, met die idee om te mik vir hierdie soort internasionaal-gefokusde speellyste.

Ek dink al vir `n hele rukkie daaraan om weer `n Engelse liedjie op te neem, en hierdie gesprek was nou net die kersie op die koek om my te motiveer om dit vinniger te laat gebeur.

“Ek het “Miracles” geskryf toe ek toevallig terselfdertyd die reeks Daisy Jones and the Six gekyk het. Die reeks is die film-weergawe van die boek met dieselfde titel, waarvan die storie geïnspireer is deur Stevie Nicks se rock`n roll ervaringe as lid van die groep Fleetwood Mac, spesifiek met betrekking tot haar onstuimige verhouding met die groep se mede voorsanger en kitaarspeler, Lindsey Buckingham. Ek was mal oor die reeks, dit het vir my gevoel asof ek al die pad daar was saam met die band. Gevolglik het ek “Miracles” sonder baie moeite geskryf. Dit het letterlik net uit my wese gevloei.”

Dit is vir Janie Bay sinvol om weer in Engels te skryf en op te neem. “Dit is full circle vir my,” vertel sy. “Ek het in vroeër jare heelwat Engelse musiek uitgereik, nog lank voordat ek my Afrikaanse liedjies bekendgestel het. Die internasionale platforms bied intussen soveel meer geleenthede om moontlike deurbrake te kan maak.  Ek sien geweldig baie uit na plaaslike, sowel as internasionale terugvoer en ek voel opgewonde oor waarheen hierdie liedjie my volgende kan lei op my pad.”

Janie Bay het tussen 2016 en 2021 `n platekontrak met Warner Music South Africa geteken. Haar eerste album by Warner was `n Engelse album met die titel “Miscellany” wat in 2017 uitgereik is. Die album was in 2018 vir `n SAMA genomineer. Die enkelsnit “Can`t Be the One” het `n Internasionale Goue Toekenning ontvang by die Queen Palm International Film Festival in Palm Springs, California, USA, in die kategorie “Beste Musiek in `n Musiekvideo.” Bo en behalwe die tydperk by Warner, reik Janie Bay al vanaf 2011 haar treffer-enkelsnitte onafhanklik uit. Bay se musiek het ook gespeel in ‘n paar Suid Afrikaanse films soos “Mooirivier”, “Vir Altyd”, en sy het haar eie weergawe van “You Are My Sunshine” opgeneem vir die plaaslike film “Stroomop”.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!