Henri Alant is terug met ‘n nuwe enkelsnit, My Vir Ewig. Die liedjie is opgeneem by Star Trax Studios in Pretoria en vervaardig deur Christie Schutte, wat reeds goue en platinum produksies agter sy naam kan skryf. Dit beloof om nuwe hoogtes te bereik in die pop-genre.
Henri Alant, die geliefde sanger en liedjieskrywer, is gebore in Wakkerstroom en is veral bekend vir sy bydrae tot bekende ballades en sy eie Afrikaanse popmusiek. Hy staan bekend as een van ons land se minnesangers met ‘n stoute kant. Henri het ook suksesvolle duette opgeneem saam met bekendes soos Rinel Day, Jennifer Zamudio, en onlangs Stephan Visagie met hulle treffer Vergeet My Hier, wat tans die radio-trefferlyste oorheers.
“Hierdie is ‘n ware ‘liefdes brief,’ maar een met ‘n sokkie tempo wat die voete sal laat jeuk om die dansvloer te betree saam met ‘n geliefde,” verduidelik hy.
“Henri het 7 maande lank gewerk aan verskeie liedjies om uit te bring, maar niks het gewerk soos hy wou hê nie. Op ‘n dag het alles net in plek geval,”
Henri het die lirieke self geskryf, en as jy mooi luister, sal jy jouself in die liedjie kan vind en jou eie storie saam met jou lewensmaat kan insien en meevoel. Dit is ‘n menslike lied vir jonk en oud en bring ‘n deel van Henri na vore wat die publiek nog nie werklik gesien het nie – sy menswees en hoe hy liefde ervaar.
Met lirieke soos “Soos Steve Hofmeyr in sy jeans het jy my nog altyd sexy gesien” en “Onthou toe ons nog jonger was, op die pad geen slaap, geen matras,” en die mooiste deel: “En in ‘n ander lewe sal ek weer vir jou wag,” word intense woorde gebruik wat jou dadelik vasgryp en jou die liedjie harder laat afspeel. Dit moedig jou aan om die mooi mense in jou lewe te waardeer.
“Ek het nie ‘n plan met die liedjie nie. Dit is veel meer net ‘n saak van die hart vir hom, iets waarmee hy as mens op 40-jarige ouderdom meer kan vereenselwig,” sê hy. My Vir Ewig beloof om een van die top liedjies te word van 2023 en ‘n treffer in die huishouding te word.
Henri Alant het oor die laaste dekade beslis sy merk gemaak in Suid-Afrika se musiekbedryf met vorige vrystellings wat groot sukses en bekendheid verwerf het. Ons glo, as sy span van harte, dat die nuwe toevoeging tot sy loopbaan en musiek net nuwe hoogtes sal bereik.
Kyk die musievideo hier: https://www.youtube.com/watch?v=njSGPxMu0Vw