Pa se Kind gaan oor die mooi verhouding tussen ʼn pa en sy kind, waarin die pa alles vir die kind sal gee wat sy hart begeer.
Hierdie Afrikaanse ballade is gebore uit die bekroonde sanger en radio-omroeper, Godfrey Williams, se eie pen en is een van die dertien enkelsnitte wat hy reeds vrygestel het.
Die boodskap agter die enkelsnit is dat ʼn mens sal kry wat jy wil hê, indien jy geduldig is en nie ophou glo in jou drome nie. Godfrey hoop dat die inspirasie agter hierdie aangrypende lied die hartsnare sal roer en goed deur die publiek ontvang sal word.
“Dit gebeur soms dat daar mense is wat wil hê wat jy reeds het en vermag het, maar dit nie kry nie. Ek weet nie wat die rede hiervoor is nie, maar wat ek wel weet is dat ek my pa se kind is en kry wat ek benodig,” sê hy oor die dieper betekenis van die lied. “Al wat ʼn mens kort is ʼn tikkie geduld.”
Godfrey verklap dat die musiekvideo vir Pa se Kind tans in die vervaardigingsproses is, maar hy wil nie op hierdie stadium te veel daaroor uitbrei nie en dit ʼn verrassing hou vir sy aanhangers.
Hierdie gebore Kapenaar het op twaalfjarige ouderdom ʼn groot liefde vir musiek ontwikkel en sy sangloopbaan het in die skoolkoor afgeskop. Hy werk al sedert 2002 in die musiekbedryf en is ook al vir die laaste vyftien jaar ʼn student by ʼn sangskool, met Leana Marx as mentor.
Die hoogtepunt van Godfrey se loopbaan is sonder twyfel toe hy vanjaar die toekenning vir Beste Tradisionele Liedjie by die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings verower het vir sy lied, Trots Afrikaans. Die musiekbedryf het hom geleer om deurentyd met die publiek betrokke te bly, so om hierdie toekenning te ontvang, het net vir hom bevestig dat sy volgehoue toewyding deur die jare die moeite werd was.
Pa se Kind deel ʼn boodskap van hoop. Die kunstenaar wil luisteraars van alle ouderdomme met sy besonderse stem vermaak en hê dat hulle die musiek moet geniet wat uit sy hart vloei.
Oor wat hom inspireer sê Godfrey die volgende: “My taal, Afrikaans, inspireer my. Ek hou daarvan om uniek te wees en elemente van ligte rock in my musiek in te sluit. Ek hou baie van rockmusiek en Nicholis Louw het sover ’n groot invloed op my styl gehad.”
Drie minder bekende feite oor die sanger is dat hy ʼn silwer medalje-wenner is in die Westelike Provinsie se baan-fietsry kampioenskappe, dat hy ʼn entrepreneur sou wees as hy nie ʼn sanger was nie (omdat hy verkies om vry te wees van kantoor-ure) en dat hy graag nog saam met Juanita du Plessis en Dewald Wasserfall sal wil werk.
Godfrey se grootste uitdaging is om nie bang te wees om oorspronklike musiek bekend te stel nie. Ruskans is daar nie vir hierdie inspirerende sanger nie, want hy is reeds besig om aan ʼn nuwe liedjie te werk wat in die lente vrygestel sal word.
Pa se Kind is nou beskikbaar op alle aanlyn-platforms.