Gerduan Kemp - Alles tot nouGerduan Kemp - Alles tot nou

Na die indrukwekkende sukses van sy vorige vrystelling, Koffie in die kroeg, wat meer as 70 000 keer gestroom is oor ’n tydperk van twee maande, is die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Gerduan Kemp, terug in die kollig met sy splinternuwe enkelsnit, Alles Tot Nou. Hierdie dinamiese country-rock-liedjie bring ’n diepgaande boodskap oor die waarde van verhoudings en hoe belangrik dit is om nie op te gee wanneer uitdagings oor jou pad kom nie.

Kemp, wat die lied saam met Emil Paul geskryf het, verduidelik: “Wanneer dinge moeilik raak in ’n verhouding, moet jy vír mekaar eerder as téén mekaar baklei.” Hierdie persoonlike en deurleefde tema spreek van sy eie ervaringe tydens ’n drie-jaar tydperk waarin hy geen nuwe musiek vrygestel het nie. “Ek het in daardie tydperk gewonder of ek ooit weer musiek sal vrystel. Terwyl ek een dag by my klavier sit, het ek besef hoe groot deel musiek van my lewe is,” deel Kemp.

Hoewel Alles Tot Nou oor liefde handel, is die boodskap vir Kemp ook persoonliker. Dit verteenwoordig hoe alles wat hy in sy lewe aangepak het, hom gebring het tot die punt waar hy weer musiek kan vrystel wat mense se harte raak. Hierdie emosionele diepgang word verder versterk deur die feit dat die titels van liedjies van sy debuutalbum in die lirieke van die nuwe snit versteek is. Dit bring saam die tema van volharding in verhoudings: “Jy moet veg vir die persoon wat jy liefhet, sodat jy hulle nie deur jou vingers laat glip nie,” sê hy.

Die produksie van Alles Tot Nou het in die bekwame hande van Hugo Ludik van Muse Studios geval, terwyl Gerduan self verantwoordelik was vir die musiekvideo en omslagfoto – ’n bewys van sy veelsydigheid as fotograaf en musiekvideovervaardiger. Die video, wat in sy eie garage verfilm is, bied ’n unieke blik op sy musikale reis en sluit nostalgiese terugflitse na sy vorige musiekvideo’s in. “Ek wou die pad wat ek gestap het herdenk deur ’n eenvoudige maar kragtige video wat die storie van die liedjie ondersteun,” vertel hy.

Kemp, wat in Bloemfontein grootgeword het en tans in Pretoria woon, is lank reeds ’n bekende naam in die Afrikaanse musiekbedryf. Hy het reeds die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars en by talle musiekfeeste opgetree. Bekende treffers soos Sesde Sintuig, Langpad na Môre en Jou Tipe Jaloers het hom diep in die harte van musiekliefhebbers gevestig.

Benewens sy suksesvolle musiekloopbaan, bestuur hy sy eie fotografie- en filmmaatskappy, Gerduan Kemp Photo & Film, waar hy al musiekvideo’s vir bekende kunstenaars soos Brendan Peyper en Karlien van Jaarsveld vervaardig het.

Alles Tot Nou is reeds sy sesde vrystelling, en met die sukses van sy vorige enkelsnitte en debuutalbum wat meer as 2 miljoen keer gestroom is, is dit duidelik dat hierdie nuwe snit nie anders kan as om ook gewild te wees nie. Gerduan werk ook tans aan nog ’n nuwe liedjie wat in Desember vrygestel sal word, en hy is baie opgewonde oor wat voorlê.

Kyk die musiekvideo hier

Luisteraars kan uitsien na Alles Tot Nou wat nou beskikbaar is op alle digitale stromings platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!