Die geliefde Suid-Afrikaanse sangeres, Franja Du Plessis, is gereed om haar musiekreis voort te sit met die vrystelling van haar splinternuwe enkelsnit, VERE!, wat op 4 Oktober beskikbaar sal wees. Sedert haar debuutalbum in 2017 het Franja ‘n sterk indruk in die plaaslike musiekbedryf gemaak, veral met haar energieke partytjietreffers wat musiekliefhebbers laat saamdans. Haar vorige vrystelling, Lisensie, is al meer as 2 miljoen keer gestroom in minder as drie maande – ‘n bewys van haar volgehoue gewildheid.
Met VERE! stel Franja weer ‘n aansteeklike treffer vry, hierdie keer met ‘n tong-in-die-kies benadering en ‘n eg Afrika-ritme wat beloof om voete te laat beweeg. Die pakkende melodie bly sommer van die eerste luister af in jou kop vassteek, en die liedjie is reeds op pad om ‘n gunsteling onder haar ondersteuners te word.
Die inspirasie vir die liedjie het ‘n interessante oorsprong. Franja het die liedjie self geskryf en vertel dat dit geïnspireer is deur ‘n bekende atletiekliedjie, maar met ‘n dieper boodskap oor boeliegedrag op sosiale media. Sy verduidelik: “Afbrekende kommentaar op sosiale media het so normaal geword dat mense nie meer dink voor hulle skryf nie. Ek wil met die liedjie myself en my aanhangers herinner dat mens nie alles wat ander oor jou sê, moet opneem nie – veral nie as dit van mense af kom wat jou nie werklik ken nie. Ons voel net VERE! en fokus op die mooi dinge in die lewe.”
VERE! is op alle digitale platforms beskikbaar wees, terwyl die musiekvideo op 11 Oktober vrygestel sal word.
Met hierdie vrystelling bou Franja voort aan haar nalatenskap as een van Suid-Afrika se mees geliefde en talentvolle kunstenaars. Haar musiek bly ‘n inspirasie vir luisteraars en ‘n weerspieëling van die positiewe boodskappe wat sy met haar werk wil oordra.