Wanneer jy ‘n hart en ‘n aardbewing saam sit, kry jy ‘n Hartbewing! Dit is die gevoel van ‘n diepe liefde wat amper onbeskryfbaar is.

Emil Paul is geen onbekende as dit kom by skryf nie. Hierdie enkelsnit kom vanuit sy eie pen en beskryf die vinnige hartklop en fisiese opgewondenheid wat plaasvind wanneer daardie warm gevoel van vlinders in jou maag verskyn wanneer jy in die oë van iemand verlore raak.

“Om musiek te skryf en te komponeer is een van my gunsteling tydverdrywe, wat ek ook selfs deesdae vir ander kunstenaars doen. In terme van my eie musiek, het ek ‘n reël vir myself gestel dat ek net musiek vrystel wat ek self geskryf het, asook waarvan ek deel was in die vervaardigingsproses (production). Die enigste uitsondering tot daardie reël tot dusver, was toe ek ‘n duet met Zanzi Africa, “Een Keer”, vrygestel het wat oospronklik deel van haar album in 2015 was, maar wat ons toe verlede jaar in ‘n duet omskep het.” vertel Emil.

Emil het tot op hede nog net ballades en liedjies wat oor hartseer onderwerpe handel geskryf en vrygestel, so Hartbewing is ‘n vars lied wat oor die gelukkiger aspek van die liefde handel. En hoe dan anders, want Emil het self die paadjie kansel toe gestap onlangs en trou beloof aan sy pragtige bruid, Tabea.

Wanneer ons vra wie Emil Paul is? “Ek is ‘n 25-jarige fotograaf, sanger, liedjieskrywer en vervaardiger uit Randburg, Johannesburg. Ek is al my hele lewe lank omring met musiek, maar het eers in 2016 as ‘n solo kunstenaar begin sing en optree.” antwoord hy.

Emil werk tans voltyds in die ateljee as musiek vervaardiger saam met Hugo Ludik van Muse Studios, maar sy fotografie hou hom ook taamlik besig. Musiek bly sy hoof passie en fokus alhoewel hy deesdae verkies om meer in die agtergrond van die bedryf te werk.

“Om te sing sal altyd ‘n liefde van my bly en ek sal steeds aanhou om elke nou en dan ‘n enkelsnit vry te stel.” voeg hy by.

Emil het in seisoen 3 van die bekende tv reeks, The Voice South Africa, deel gevorm van Francois van Coke se span, waarna hy sy debuut album, Begin Net Oor, vrygestel het en bekende enkelsnitte wat verskeie trefferparades bereik het ook op die album geplaas het.

Die enkelsnit, Jou Fotoraam, ‘n duet met Samantha Leonard (deelnemer van Die Kontrak) is ook te hoor op die album en het baie harte geraak.

“Alhoewel ek self nie vir Die Kontrak ingekom het nie, word ek ironies genoeg tans meer herken vir my acapella oudisie-video van Theuns Jordaan se “Soos Bloed” vir die program, as vir enige van my ander oorspronklike vrystellings. Tussen al my sosiale media platforms saam het dié video al meer 127 000 kyke gekry, en was daar selfs ‘n kommentaar-oorlog rakend hierdie einste video op my Facebook-blad, waar tot die sangeres, Corlea, ingespring het om my te verdedig.” vertel Emil trots.

Emil is bevoorreg genoeg om tans aan baie groot projekte te werk by Muse Studios. Hy is besig om al die stemopnames van hul kunstenaars oor te neem, maar werk hoofsaaklik as agtergrond sanger vir die studio en sing harmonieë bo-oor die hoofsanger se stem.

“My stem kan dus ook in die agtergrond gehoor word in treffers soos Eloff se “Johnnie Blou” en “Witblits”, asook ‘n paar opkomende treffers wat binnekort vrygestel word deur van ons land se grootste kunstenaars.” sê hy.

“In terme van my eie musiek, beplan ek nog een of twee enkelsnitte as solo-kunstenaar, maar my fokus lê tans op ‘n nuwe Afrikaanse duo waarvan ek deel vorm, wat in 2023 tot die lig sal kom (meer as dié mag ek op hierdie stadium nie sê nie). Ek skop dan ook volgende jaar my studies in Sielkunde af en hoop om daarna dan voltyds in die mediese bedryf in te tree as kliniese sielkundige.” sluit Emil af.

Emil se enkelsnit, Hartbewing, is beskikbaar op alle digitale platforms en ‘n musiek video kan ook verwag word op 7 Oktober.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!