Elsjé weet waaroor ware liefde gaan en hoe om die stukke op te tel ná ‘n gebroke liefde. Sy sing oor hierdie universele ervaring in haar jongste enkelsnit, Stroom. Hierdie Afrikaanse popliedjie is geskryf in samewerking met die gesoute liedjieskrywers Hugo Ludik en Nicholas Jordaan.

Elsjé, wat self deur ‘n verhouding gegaan het wat sleg geëindig het, glo dat Stroom hoop sal skep vir luisteraars wat deur ‘n moeilike tyd gaan. “Enige verhouding het goeie en moeilike tye, maar as hulle fondasie gevestig is, sal niks hulle skei nie,” sê sy.

Stroom dra ‘n positiewe en hoopvolle boodskap, met ‘n treffende melodie wat luisteraars se voete behoorlik aan die jeuk en skoffel sal kry. Die musiekvideo vir Stroom is verfilm op ‘n plaas naby Roodeplaatdam. Die storie volg ‘n enkellopende stadsmeisie en haar vriende op ‘n safari-rit. Hoewel die toergids nie aanvanklik haar oog vang nie, raak sy flou en droom hoe die toergids al hoe aantrekliker word soos sy nader aan hom kom. Die skiet van die video is behartig deur videograaf Gerduan, met Elsjé en Chris Potgieter wat die regie hanteer het. Chris vertolk ook die rol van die toergids.

Elsjé is al vir byna twee jaar aktief in die musiekbedryf en het aan verskeie talent- en sangkompetisies deelgeneem. Sy sê: “Musiek is my passie, my ontspanning en hoe ek ontsnap van die werklikheid.” Hierdie 23-jarige blondekop van Pretoria, wat ook een van ‘n tweeling is, speel ‘n groot rol in haar familie se besigheid sedert sy sewe jaar oud is.

Gebore en getoeë in Pretoria, het Elsjé gematrikuleer by Hoërskool Montana en ‘n drie-jaar kursus in Strategiese Besigheidsbestuur aan Varsity College voltooi. Haar gesin is baie musikaal, en sy het haar liefde vir sing ontdek deur na haar pa te luister wat menigte aande in die sitkamer gesing het. Van kindsbeen af het sy naweke om die kampvuur almal vermaak, met enige naby stoel of tafel wat haar verhoog was.

Elsjé is ‘n avontuurlustige en energieke mens wat borrel met passie. Sy geniet dit om naweke haar 4×4 quad bike aan te durf. Sy werk elke dag om haar stem daar buite te kry en bly vasberade ondanks teleurstellings. Sy hou vas aan haar gunsteling leuses: “Wees wie jy is” en “Onthou, ‘n aanhouer wen”. Sy sal nooit opgee op haar Godgegewe talent nie.

Elsjé se nuutste enkelsnit, Stroom, is ‘n viering van die krag van musiek om te inspireer en te genees, en dit beloof om ‘n gunsteling te word onder Afrikaanse musiekliefhebbers regoor die land.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!