’n Unieke opname- ateljee genaamd Son Studios, is pas deur ’n eksklusiewe glansgeleentheid in Pretoria amptelik bekendgestel en dié geleentheid is deur verskeie bekendes en rolspelers in die vermaaklikheidsindustrie bygewoon.
Bekende gaste het ingesluit Arnold Coleske, Dodo Nyoka (Die Kontrak 2), Corlea, Rita Li, Kirsten Richard (Droomsindroom), Sue Pyler, Jemma Catherine, Mack Rapapali en vele meer. Gaste was bederf met ‘n aand vol opwinding en dit was orals op sosiale media te sien.
Dié ateljee, wat beloof om binnekort die bonsende hartklop van Pretoria wees, is die alternatiewe sanger, liedjieskrywer en kunstenaar, Zaan Sonnekus, se breinkind.
“Ek is opgewonde om my passie te kan deel en ’n plek vir mede-kunstenaars te bied waar hulle kan veilig voel om kreatief te wees en hul eie liefde vir musiek uit te leef,” het Zaan opgewonde gesê.
Zaan is die mede-eienaar van dié ateljee en ook bekend as een van Suid-Afrika se gunsteling rockers. Dié oorspronklike Bloemfonteiner is nie net deel van Son Studios en Son Sound nie, maar hy is ook die mede-eienaar van Inner Ink. Inner Ink vervaardig geharde glas op industriële vlak en doen keramiekdrukwerk.
Met sy aangrypende poëtiese lirieke, unieke klank en passievolle verhoogteenwoordigheid, het dié Suid-Afrikaanse rocksensasie ook by die bekendstelling opgetree vir ‘n spesiale vertoning.




Die moderne, unieke Son Studios is in die ooste van Pretoria geleë en kyk uit oor Menlyn Maine. Son Studios is in 2017 gestig nadat Zaan en sy swaer, Nathan Jean Mowatt tot die besef gekom het dat daar geen werklike “oefenruimte” vir musikante en kunstenaars in Pretoria is nie.
Hulle het geweet dat hulle ‘n professionele ateljee wil skep vir kunstenaars en bands om voor te berei en te oefen vir optredes, iewers waar alle kunstenaar net hulself kan wees.
“Ons het gedink dit sal ’n goeie idee wees om ’n kreatiewe omgewing te skep, eers net vir die vervaardiging en skryf van ons eie musiek, maar die droom het baie vinnig gegroei en uitgebrei. Ons wou ’n omgewing skep waar musiekliefhebbers kan skryf, opneem, produseer, oefen, meng en natuurlik net wees.”
Die ateljee se naam is ter ere van God. “Son Studios, is om dankie te sê aan my Vader vir die stigting van die ateljee en die geleentheid wat hy ons gegee het om dit te doen waarvoor ons lief is,” noem Zaan trots.
Zaan het verder gesê die primêre doel van Son Studios is om ‘n positiewe verandering in die musiekbedryf teweeg te bring.
Zaan sê hulle werk saam met bedryfsetikette en uitgewersmaatskappye en skryf saam met liedjieskrywers en kunstenaars.
“Ons verskaf ook troos agter die skerms terwyl ons saam deur die kreatiewe proses stap.”
Die ateljee is toegerus met topgehalte-toerusting wat jy nodig het sowel as ’n span bestaande uit musiekvervaardigers, ateljee-ingenieurs, meng- en bemeesteringsingenieurs, liedjieskrywers, musikante en bestuurders wat almal deel vorm van die Son Studios-span.
Vir meer inligting besoek gerus Son Studio se webwerf www.sonsound.co.za.
Luister na Zaan se musiek hier: