2024 was ’n baanbrekende jaar vir Dodo Nyoka, wat homself as een van Suid-Afrika se mees veelsydige kunstenaars gevestig het. Die jaar het vol hoogtepunte gesorg, en aan die einde daarvan bring hy vir sy aanhangers ‘n splinternuwe kuierliedjie, “Meisie”, wat die gees van die somer en vakansie vier.

Na die vrystelling van sy diep persoonlike liedjie “As Ek Opstaan” – wat hy geskryf het vir sy toekomstige vrou – het Dodo sy veelsydigheid verder bewys met sy eerste Engelse lied, “Dancin’ In The Stars”. Hy het ook aanhangers verras met die duet “Ek Verstaan”, saam met Karlien van Jaarsveld, sy mentor van Die Kontrak. Hierdie hoogtepunte het sy pad na sukses verder gebou, en met die vrystelling van “Meisie” bring Dodo die perfekte liedjie vir Desember se kuier- en vakansietye.

Die lied “Meisie” is ontstaan uit die versoek van een van Dodo se aanhangers op TikTok, wat gevra het vir ‘n kuierlied soos “Country Girl van Bloem”.

Ek dink dit is ’n goeie liedjie vir die somerseisoen,” sê Dodo.

Ek probeer altyd na my aanhangers te luister, en dit is presies wat ek gedoen het met hierdie liedjie. Ek is altyd oop vir goeie raad van enigiemand af.”

Die vrolike en energievolle “Meisie” is ‘n lekkerluister-pop-Afrikaanse lied wat die samehorigheid van vakansies saam met vriende en familie beklemtoon. Dodo hoop dat die lied mense sal bymekaar bring en hulle sal laat vergeet van die negatiewe dinge in die wêreld. “Ek wil hê my musiek moet mense gelukkig maak in ’n wereld vol bakleiery,” verduidelik hy. “My droom is om mense te laat voel asof hulle my al ontmoet het deur my musiek.

Die musiekvideo vir “Meisie” is ook iets spesiaals. Dit is geregisseer deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative, en is verfilm by The Grove-winkelsentrum in Pretoria. Die video het die nostalgiese gevoel van ‘n ou-skool afspraak vasgevang. “Ons wou die musiekvideo so natuurlik as moontlik hou, so hierdie keer het ons net pret gehad op stel,” vertel Dodo.

Kyk die musiekvideo hier:

’n Persoonlike hoogtepunt vir Dodo in 2024 was sy optrede saam met Francois van Coke by Afrikaans is Groot. “Dit was ’n droom wat waar geword het om op daardie verhoog te staan,” sê hy.

Met “Meisie” sluit Dodo 2024 af op ‘n hoë noot, en sy unieke vermoë om boodskappe van geluk en samehorigheid deur sy musiek te dra, stel hom op pad na groter hoogtes in 2025.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!