Nadat die talentvolle duo die laaste paar jaar aan hul oorspronklike musiek gewerk en vervolmaak het, is Die Wildberries uiteindelik gereed om die Afrikaanse musiekbedryf weer te betree met Tekens Wys Na Hom Toe – ‘n enkelsnit wat gekies is deur die gooi van ‘n muntstuk!

Tekens Wys Na Hom Toe is ‘n ligte Country-treffer wat die storie vertel van iemand wat reeds vrede gemaak het met die gedagte van alleen oud word, maar wat toe eindelik steeds “per ongeluk” haar vir ewig in ‘n onverwagte sielsgenoot gevind het. Dié snit is ook die eerste van nog vele wat luisteraars vanaf Die Wildberries in die vervolg kan verwag.

Met dié snit beoog Die Wildberries – of altans Marcelle en Christian – om hul luisteraars se voete met onmiddellike effek op die dansbaan te kry, maar alhoewel “Tekens Wys Na Hom Toe” vir die perfekte sokkie kan belowe, kan die snit ook alleenlik geniet word by ‘n rustige en gesellige kuiertjie langs die vuur.

Die enkelsnit is deur niemand anders die begaafde liedjieskrywer, Vaughan Gardiner, geskryf. Die snit is daarna dan vervaardig by Muse Studios, Hugo Ludik se opname-ateljee in Randburg, Johannesburg.

Omdat dit al ‘n gereime tydjie is vandat Die Wildberries musiek tot die lig gebring het, beskryf die duo die uitdunningsproses wat gevolg is om te besluit watter snit hul eerste nuwe enkelsnit sou wees as heel uitdagend.

Die finale besluit het eindelik gelê tussen dié snit, Tekens Wys Na Hom Toe en ‘n ander – en al rede hoekom hierdie snit gekies is, is omdat die gooi van ‘n muntstuk in sy guns gelê het!

Kyk die musiekvideo hier:

Wanneer Marcelle en Christian gevra word oor hul toekomstige planne in terme van nuwe musiek vanaf Die Wildberries, is die duo opgewonde oor ‘n nuwe begin wat tans vir hulle voorlê. Die Wildberries loop al ‘n lang pad van nege jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, en met hulle volgende vrystellings mik hul dus om vorige aanhangers steeds tevrede te hou, maar sou ook graag ‘n geleentheid wil skep om nuwe luisteraars te lok met ‘n nuwe klank vir die groep.

Buite sy musiekloopbaan was Christian ook doenig in die bemarkingsbedryf, waarna hy in 2009 die musiekbedryf voltyds betree het.

Marcelle het na skool toerisme studeer, maar het eindelik ook self – soos haar sangsgenoot – die roep van ‘n loopbaan in musiek in 2011 beantwoord.

Dán, in terme van ’n verdere agtergrond in musiek staan dié twee ook vir niemand terug nie. Marcelle het al met formele sangonderrig in 2007 begin en het selfs WP kleure in sang en dans verwerf! Christian is ook al van kleins af omring met konstante musiek in die huis tussen sy ouers wat self ook baie musikaal is. In 2013 is Die Wildberries gestig, en met die gekombineerde kragte tussen hierdie twee talentvolle musikante, het hulle daarin geslaag om al twee albums vry te stel, en natuurlik ook om die harte van vele te steel met hul opgewekte, lewendige musiek.

Wees op die uitkyk vir hierdie Pop-Country duo – met die goue stem van Marcelle en Christian op die kitaar belowe Die Wildberries om nog diep spore te trap in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers.

Tekens Wys Na Hom Toe is nou op alle digitale stroom platforms beskikbaar.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!