Dis partytjietyd met Martin Bester se “Boerepop”!

Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker is: As jy Boerepop oor die luidsprekers gooi, ontstaan daar ‘n Boerejol wat onverbeterlik is!

Daarom het die sanger en media persoonlikheid Martin Bester saam met die liedjieskrywer Rouxan Cloete gespan om ‘n splinternuwe Afrikaanse somertreffer, Boerepop, te skryf. Martin is met Boerepop slaggereed om hierdie somer al wat ‘n fees en partytjie is behoorlik op horings te neem.

“Die goedvoel-liedjie is vir mense wat weet hoe om hard te werk en dan lekker hard te kuier!” sê Martin oor die boodskap van die liedjie.

“Afrikaanse feeste en kuierplekke is ongelooflik lekker en ek wou graag my liedjie daaroor opneem.”

Martin se stem is deur Paulo Azevedo van Coleske Artists opgeneem en Dirk van Niekerk het die liedjie in die Kaap gemeng en vervaardig.

“Dit was die eerste keer wat ek saam met Dirk werk, en wat ‘n voorreg! Hy weet presies hoé Boerepop moet klink!” Die prettige musiekvideo vir BOEREPOP skep ‘n agter-die-skerms, toer-gevoel met gekombineerde beeldmateriaal van Martin se lewendige optredes, soos by die onlangse Groot Jol-konsert by die Voortrekkermonument in Pretoria. “Ons gebruik baie skote van feeste en konserte waar ek op die verhoog is maar ook agter die skerms en van die gehore.”

Martin het in 2021 die treffersnit Lilly uitgereik en het ook onlangs saam met die kletsrymer Loufi die treffer Disco Damage uitgereik. Martin is ook bekend as omroeper van die ontbytprogram, Breakfast with Martin, op Jacaranda FM.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!