Suid-Afrikaners het ’n onmiskenbare liefde vir braaivleis en kuier, en Deon Human vang hierdie nostalgiese vakansiegevoel vas in sy nuutste enkelsnit, “Kom’s Braai”. Met lirieke wat net so lekker is soos ’n goed gemarineerde tjoppie, hierdie liedjie gebore om die nuwe gunsteling op enige braaivleisvuur te wees.

Deon, wat al lank bekend is vir sy voelgoed-snitte, bring met “Kom’s Braai” ’n vrolike Afrikaanse dans-popsnit wat vriende en familie bymekaar nooi om net weer die vreugde van geselligheid te geniet.

“Die idee het ontstaan by ’n braai waar ons net gesing en gelag het,” onthou Deon. “My vriende het gesê ek moet ’n braai-liedjie skryf, en dit het so spontaan gebeur. Ferdinand het toe ook met die titel, Kom’s Braai, vorendag gekom – ons wou iets anders hê as die gewone ‘Ons gaan braai.’”

Die liedjie herinner aan ’n sorgvrye somersdag met vriende, met ’n ukulele-klank wat ’n ligte, tropiese atmosfeer skep – amper soos Train se ikoniese Hey, Soul Sister, maar met ’n unieke Suid-Afrikaanse geur. Dis duidelik dat Deon en Ferdinand hul doel bereik het om ’n liedjie te skryf wat mense laat glimlag en met trots laat braai.

Hoewel musiek Deon se grootste passie is, is hy ook ’n besige entrepreneur. Hy bestuur twee besighede – een wat meubels vervaardig en ’n ander wat meubelhardeware invoer. Tog maak hy tyd vir sy musiek: “Ek probeer elke aand vir minstens ’n uur of twee kitaar speel en liedjies skryf,” verduidelik hy. “Ek probeer musiek skryf wat mense regtig kan geniet, maar ook op radiostasies sal werk.”

Deon het al sukses met sy vorige snitte behaal – sy eerste enkelsnit, “Met U Liefde”, is op 13 radiostasies gespeel, terwyl Beste Pel verskeie nommer-een-plekke ingepalm het. Met “Kom’s Braai” hoop hy om voort te bou op hierdie sukses en selfs groter hoogtes te bereik. Sy droom is om eendag deur groot kommersiële radiostasies opgeraap te word, en sy vasberadenheid en talent laat mens glo dat dit net ’n kwessie van tyd is.

Deon Human het met “Kom’s Braai” ’n lied geskep wat perfek is vir enige braaivleis. Die catchy tune en speelse lirieke roep sommer dadelik ’n vakansiegevoel op. Die ukulele bring ’n vars klank wat jou nooi om jou skoene uit te skop en die vuur aan te steek.

Hoewel die lied baie energie en karakter het, is daar ruimte vir verfyning in die produksie. ’n Bietjie meer detail en diepte in die klank sou die lied nog sterker kon maak en dit regtig laat uitstaan tussen ander treffers. Maar dit is klein verbeterings, en dit doen geensins afbreuk aan die lekker kuier-gevoel van die lied nie.

Kom’s Braai is meer as net ’n liedjie – dit is ’n uitnodiging. Met sy ligte ritme en humoristiese lirieke is dit die perfekte herinnering aan wat ons as Suid-Afrikaners die meeste waardeer: goeie geselskap, lekker kos, en ’n vuur wat knetter. Ons sien uit na wat Deon volgende op die vuur sit!

Leave a Reply

error: Content is protected !!