Die Afrikaanse musiektoneel kry vandag ’n vars toevoeging met Dassie se eerste enkelsnit, “Wyne”, wat nou op alle groot stroomplatforms beskikbaar is. Hierdie Afrikaanse countrystyl-liedjie, met invloede van kunstenaars soos Bok van Blerk, Ricus Nel en Appel, bied ’n unieke kombinasie van humor en hart. Dit vertel op ’n ligte, hartroerende manier hoe mense deur saamkuier hul uitdagings die hoof bied.
Dassie beskryf “Wyne” as ’n eerlike en egte weergawe van alledaagse uitdagings. Die inspirasie het gekom ná ’n gesprek met vriende, waar hy besef het hoe belangrik hierdie oomblikke van verbinding is. Volgens hom is die liedjie nie net ’n weerspieëling van sy eie ervarings nie, maar ook iets waarmee baie mense sal kan identifiseer.
“Ons almal sit in dieselfde bootjie, maar party van ons se branders is net groter,” verduidelik Dassie. “Hierdie liedjie herinner ons om die oomblikke te geniet, dalk met ’n paar wyne in die hand, en ons bekommernisse vir ’n rukkie opsy te skuif.”
Met Appel as mentor het Dassie baie geleer tydens die produksieproses, wat hy as ’n hoogtepunt in sy loopbaan beskou. “Dit was ongelooflik om saam met Appel en die span van Dee-Graaff Produksies te werk,” sê Dassie. Hy voeg by dat die kreatiewe proses hom gehelp het om die positiewe uitkyk wat in “Wyne” vasgevang word, te verken en uit te druk.
Die liedjie se musiekvideo, geskiet by die ikoniese Jan se Skuld, sluit perfek aan by die liedjie se tema. Onder leiding van Eric T. Graham en Tehan Buys van ETG Creative, is die video ontwerp om die lekker saamkuier-gees visueel vas te vang.
Kyk die musiekvideo hier:
Met sy kenmerkende positiewe energie, hoop Dassie dat “Wyne” nie net sal vermaak nie, maar ook hoop en vreugde aan luisteraars bring. Of jy dit luister op pad werk toe, langs ’n braaivuur, of rustig by die huis, “Wyne” nooi jou uit om die lewe ’n bietjie ligter te vat en die mooi oomblikke te waardeer.