Wees Lief, Wees Vry, Wees Jy is ’n Afrikaanse pop-liedjie uit Danie van der Westhuizen se eie pen en is ook een van die enkelsnitte vanaf sy nuwe album, ONS.
Die inspirasie agter die liedjie spreek oor Danie se gevoel dat ’n mens drie dinge moet wees: liefdevol, vry en getrou aan jouself, sodat jy nie soos iemand anders probeer wees en in die proses ’n moordkuil van jou hart maak nie.
Danie het nog altyd mense soos Theuns Jordaan se opregtheid bewonder en hierdie liedjie brei uit oor die belangrikheid dat elke persoon vrede moet hê en trots behoort te wees op wie hulle geskape is om te wees.
“Wees Lief, Wees Vry, Wees Jy het ’n sterk boodskap, maar tog kan jy steeds lekker op hom kuier,” verklap Danie oor die nuwe lied. “Nes my vorige 24 enkelsnitte, sal hierdie liedjie op die regte ore val en in daardie mense se harte gaan nes skrop.”
Oor sy album, ONS, vertel hy: ‘Ons’ is net een van daai tipese woorde wat iets sterk beteken vir ons volk. Dit gaan oor mense wat mekaar weer vind nadat die wêreld hulle uit mekaar probeer hou het.”
Elf van die snitte is deur Danie self geskryf en die hele album is binne twaalf maande voltooi. “Die album is net so oorspronklik soos my eerste album, Boerseun. Ek voel dat mense ’n honger het vir oorspronklike musiek,” skerts hy oor die album.
Een van die uitdagings wat hy tydens opname in die gesig gestaar het, was om nie in ’n “doef-doef-groef” te verval nie en om eerder op die boodskap agter die album te fokus. Iets wat hy ook met die mense van Suid-Afrika wil deel in 2022.
Die talentvolle sanger se liefde vir musiek het ontstaan toe hy die klank behartig het by ander kunstenaars se optredes. Hy het besef dat hy, nes hulle, ook musiek kan gebruik om sy idees met mense te deel en is as gevolg daarvan al die laaste vyf jaar self op die verhoog te sien.
Danie koester ’n groot liefde vir Afrikaanse musiek, sowel as sy boerekultuur, omdat hy voel dat dit so neergedruk word: “Ek is iemand vir hartsmusiek. ’n Lied moet iets by jou los.”
Oor hoogtepunte en uitdagings deel die kunstenaar: “Ek en Lu-Anel het ’n voorskou vir Steve Hofmeyr gedoen, waarna hy ingestem het om een jaar saam met my die Witkruis-opgradering-vertoning te doen (2020). ’n Dag voor die optrede moes ek hoor dat my klankspan siek is. Dit was baie uitdagend om dit sonder hulle te behartig, maar bly tog steeds ’n hoogtepunt in my loopbaan wat ek altyd sal onthou.”
Danie voel dat elke kunstenaar sy eie unieke stempel op die musiekbedryf moet afdruk en het presies dit gedoen het my sy nuwe enkelsnit, Wees Lief, Wees Vry, Wees Jy.
