Bouwer Bosch het onlangs sy splinternuwe album getiteld Briewe Uit Die Argiewe. Die album kom na die vrystelling van verskeie enkelsnitte vanaf die album, naamlik Soos Ek Doen (feat. Abb), Sambreel en Bouwer se nuutste enkelsnit – Skemer.
Briewe Uit Die Argiewe is geskryf oor die laaste 3 jaar, en dis ook die rede vir die titel vir sy derde solo album. Meeste van die liedjies kom uit Bouwer se argiewe, met baie van die liedjies wat vir ander kunstenaars geskryf is, maar nooit gebruik is nie.
“Ek het musiek op my rekenaar gevind wat ek in 2019 geskryf het, en gevoel die tyd is nou reg om hierdie stories te vertel. Ons lewe is ook een groot argief; met fotos en herinneringe van hoe ons groot geword het of net dinge wat ons laasweek gedoen het. Argiewe is deel van ons DNS.” – vertel Bouwer.
Die album is vervaardig deur Francois de Klerk, Austin Hlume, Tjaardt van der Walt, Ruan Graaff, Deon Volschenk en Bouwer Bosch self. Bouwer beskryf dit as ’n ongelooflike ervaring om soveel verskillende breine betrokke te hê by jou musiek. Die album is opgeneem by sy studio in Johannesburg.
“Ek dink daar is ‘n hongerte in my wat ek lanklaas beleef het rondom musiek, en ek wou net weer stories vertel met musiek. My lewe het baie verander toe ek begin TV en film werk doen; ek het musiek afgeskeep omdat daar nie tyd was nie, so ek wou net die laaste 3 jaar se gebeure in my lewe vasvang en dit deel.” sê Bouwer.
Die album bevat ’n verskeidenheid van samewerkings met onder andere sangers soos Almero, Loufi, Henru (’n nuwe kletsruimer van die Kaap) en Abby, en aanhangers kan uitsien na ’n mengsel van pop en dans treffers, sowel as dieper en ernstiger liedjies. Om saam met nuwe kunstenaars te werk, was nog altyd ’n groot liefde vir Bouwer; elke samewerking bring iets anders na die tafel, hy kan by almal iets leer en die resultaat is ’n opwindende album.
Bouwer beskryf Briewe Uit Die Argiewe as die album met die meeste diversiteit wat hy al gedoen het. Die feit dat die liedjies oor so ’n lang tydperk geskryf is, en dat hy met so baie vervaardigers vir die album gewerk het, verskaf meer diepte in die musiek; die musiek en lirieke het het kans gehad om volwasse te raak binne-in hom voor hy dit met die wêreld deel.
“Ek hou maar daarvan om oor verhoudings te skryf. Nie net romanties nie, maar met jou God of geloof of waarin ookal jy glo, vriende, familie en met jouself. Ek dink die hooftema van die album is dat verandering nie net nodig is nie, maar deel is van die lewe.”

Om die vrystelling van die album te vier, het Bouwer ook ’n nuwe musiekvideo vrygestel vir een van die liedjies op die album vry, naamlik Hier By My. Hy wou graag die liedjie deel met die wêreld omdat sy vriend, Ruan Jordaan dit geskryf het. Hy beskryf die liedjie as beslis nie ’n radio treffer nie – maar daar is iets aan die liedjie waarmee mense sal kan identifiseer. Die musiekvideo is deur Bouwer en Nico Welgemoed vervaardig en geskiet in Richmond in die Noord-Kaap in Augustus vanjaar.
Kyk die musiekvideo hier:
“Ek is ongelooflik trots op hierdie album. Nie net oor die liedjies nie, maar ook net oor die hele proses. Om musiek te deel is ‘n weerlose oefening en hierdie is ‘n album waar ek beslis ’n ander kant van myself met die luisteraar deel. Ek dink die album is ’n baie ‘happy’ album en dit reflekteer beslis waar ek myself nou in my lewe vind.” – Bouwer Bosch.
Wat Dink Reputasie?
Die Briewe Uit Die Argiewe album is beslis Bouwer se beste solo werk wat hy nog vrygestel het. Gunstelinge (snitte) wat in ons kop ronddwaal is Skemer, Kruispad, Een in ‘n Duisend (feat. Henru). Kruispad se lirieke is beslis iets wat met ‘n hele paar mense sal aanklank sal vind, in die koor sing Bouwer, “Hoe moet ek vir die Here sê, ek het verdwaal, maar ek is veilig waar ek nou is, Hoe moet ek vir die Here sê, ek sit my kruis neer dis tyd dat ek nou rus.”
Volg vir Bouwer Bosch hier:
Instagram: https://instagram.com/BouwerBosch
Facebook: https://www.facebook.com/BouwerBosch