Die geliefde Afrikaanse sanger, Bobby van Jaarsveld, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit getiteld “Lief My Weer Lewendig”. Hierdie liedjie, geskryf deur die talentvolle Johan Oberholzer, handel oor die kragtige effek van liefde in ons lewens. Of dit nou jou man, vrou, kinders, of enige geliefde is, liefde het die mag om ons lewendig te maak.

Bobby hoop dat die publiek die liedjie goed sal ontvang en dat hulle hulself kan inleef daarin. “Ek het lank terug ’n dansliedjie uitgebring en die mark is nogal lus vir ’n bietjie dans deesdae,” het Bobby bygevoeg. Volgens hom is hierdie liedjie in ’n ander styl as sy vorige enkelsnit, “Verlore Seun”, wat vroeër vanjaar uitgereik is. “Ek dink mense sal dit kan speel vir die persoon vir wie hulle lief is,” het hy gesê.

Die nuwe enkelsnit het vir Bobby ’n diep geestelike betekenis. “Vir my voel die liedjie ook geestelik, want ek kan die liedjie sing vir God. Sy liefde maak my weer lewendig oor en oor so baie keer. Ek dink almal kan verstaan waaroor die liedjie gaan. Partykeer bevind ons onsself in donker, vreemde plekke, maar liefde bedek alles,” het hy verduidelik. “Ek hoop mense hoor ook die storie agter die storie, dat dit iemand se hart sal raak.”

’n Musiekvideo wat deur Gerduan Kemp verfilm is, is ook in die pyplyn, maar hieroor wil Bobby nie te veel verklap nie. Dié musiekvideo, wat nou ook op alle stroomdienste beskikbaar is, laat die kyker voel asof hulle ’n Bobby-vertoning in die gemak van hul sitkamers geniet.

Bekend vir sy veelsydigheid, is Bobby van Jaarsveld nie net ’n sanger nie, maar ook ’n talentvolle akteur. Hy sal vanaf 9 Augustus te sien wees in die sexy romantiese komedie “Eksie Perfeksie” op Showmax, saam met ander sterre soos Pietie Beyers, Emma van Heyn, Sean van Noordwyk, en vele meer. “Ek geniet dit vreeslik om my lyf akteur te hou en ek is so dankbaar vir al die geleenthede wat oor my pad kom,” voeg hy by.

Met ’n loopbaan wat oor byna twee dekades strek, sê Bobby dat daar nie veel is om uit te sonder nie, behalwe die ongelooflike mense wat hy ontmoet het en die legendariese oomblikke wat hy beleef het. “Die groot hoogtepunte sal altyd die publiek wees wat na die shows toe kom en my ondersteun. Ná 20 jaar in die bedryf, sedert my eerste album, is ek steeds dankbaar vir elkeen wat my reis deel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!