As jy in jouself glo, kan jy berge versit en dít is juis die boodskap wat Ashton Wheeler met sy enkelsnit, Twee is Beter, wil oordra. Dié liedjie is pas vrygestel en is Wheeler se eerste enkelsnit nadat hy onlangs by Universal Music SA as een van hul blink nuwe sterre aangesluit het.

Sy unieke, sielvolle stem sal die luisteraar dadelik in ’n moderne country milieu verplaas.

Twee is Beter is ’n goedvoelliedjie en ek hoop almal sal sommer net wil dans as hulle dit hoor,” het Wheeler vertel.

“Vir my persoonlik beteken dié liedjie hoop en lewe . As jy glo in jouself kan jy berge versit – en al hoor mens dit so baie móét ’n mens dit glo,” het hy vertel. Volgens hom is ’n mens geneig om té vinnig tou op te gooi en net saam met die samelewing in ’n rivier af te dryf.

“Ek was ook al in baie donker plekke in my lewe waar ek net wou ontsnap van alles, en omdat dié liedjie vir my so vol hoop is, hoop ek dit beteken dieselfde vir ander,” het hy verduidelik.

Dié opgewekte liedjie is gepen deur Faraway George wat ook bekendheid in die Afrikaanse musiekindustrie verkry het deur sy deelname aan die eerste musiek-realiteitsreeks, Die Kontrak. “Ons het gevoel dit is ’n liedjie wat goed sou pas by my styl,” het Wheeler vertel.

“Ek dink die publiek sal lekker dans op die liedjie en sal die storie voel as hulle alleen op ’n langpad ry en regtig na die woorde luister,” het hy bygevoeg.

Volgens Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music SA, is Wheeler nét reg om passie en vuur in die Afrikaanse musiekbedryf te blaas. “Sy stem en klank is uniek en van die oomblik wat jy na hom luister word jy meegevoer,” het Boshoff gesê.

Dee Graaff Productions vervaardig sy musiek met kitaarsensasie, Ruan Graaff, as die hoof vervaardiger. Dit is ook hulle wat hom aan Universal Music SA voorgestel het vanwee die uniekheid van Wheeler se stem en musiek.

“Ashton het ’n fenominale, sielvolle stem,” het Deon Dee, van Dee Graaff Productions, dit beskryf. Wheeler is al van jongs af lief vir sy kitaar en het op die ouderdom van 18 sy heel eerste lewendige vertoning gedoen.

“As ek een persoon se lewe ten goede kan verander deur die aanklank wat my musiek vir hulle bied, het ek my doelwit bereik,” het hy gesê. Wanneer hy verwys na die uitdagende tye in sy lewe vertel hy ook dat dit juis daardie tye is wat hom geleer het om te vertrou op die Here.

“Dit het my beslis geleer van geduld en nederigheid – en as ek nie deur moeilike tye gegaan het nie sou ek nie die inspirasie gehad het om musiek te kon skryf nie. Dan sou ek mos nooit die geleentheid waardeer het nie,” het hy vertel.

Volgens hom was die hoogtepunt van sy musiekloopbaan die dag toe hy by Universal Music SA aangesluit het. “Dis soos om beloon te word vir jou harde werk,” het hy gesê. Wheeler put inspirasie uit contrymanne soos Kip Moore en ook die plaaslike kunstenaars, Jan Blohm en Juan Boucher.

Kyk die musiekvideo hier:

Twee is Beter is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!