AJ DeVos is ’n 34-jarige sanger en musikant van die Oos-Rand in Gauteng. Hy is reeds twee jaar in die musiekbedryf doenig en het bekendheid verwerf vir sy treffer Hier en Nou, wat in 2021 uitgereik en baie goed ontvang is.
Hierdie veelsydige kunstenaar met sy rasperstem, wat homself beskryf as ’n gesinsman wat die beste eggenoot en pa wil wees wat hy kan, is passievol oor Afrikaans daar is vir hom geen groter voorreg as om musiek te kan maak in sy moedertaal nie.
Alhoewel hy nog altyd lief was vir sing, het hy eers besluit om sy werk as veiligheids- en gesondheidspraktisyn te verruil vir die verhoog nadat sy vrou hom ingeskryf het vir ’n sangkompetisie. “Ek is so dankbaar vir my vrou wat nog altyd in my geglo het en my gehelp het om my drome waar te maak,” sê hy.
Afrikaanse en country-musiek was nog altyd bo-aan sy speellysie en hy meen dat sangers soos Theuns Jordaan en Johnny Cash ’n groot invloed gehad het op sy eie styl. Hy sal ook graag nog eendag saam met iemand soos Jo Black wil werk.
Sy familie, vriende en lewensuitkyk inspireer die musiek wat hy kies om te sing. Hy verduidelik: “Die lewe het sy kronkeldraaie en sy mooi. Dit is vir my belangrik dat mense besef dat dit nie ’n strokiesprent is nie en dat dit oukei is om foute te maak, op te staan en weer te probeer.”
Tans is hy in die ateljee besig om sy derde enkelsnit op te neem. Hart Roep Hart is ’n hartroerende liedjie, uit die pen van Jody Mayhew, wat gaan oor die emosies wat jy ervaar wanneer jou hart en kop nie saam praat nie.
Die musiekbedryf het AJ geleer om geduldig te wees en hard te werk vir wat hy wil hê. Hy glo dat musiek die beste oplossing is vir enige probleem en dat hy beslis sy doel in die lewe uitleef. “My toekomsplanne is om net myself te wees en my eie stempel op die bedryf af te druk, sodat almal kan sien wie AJ DeVos regtig is,” sluit hy af.
Hart Roep Hart is beskikbaar op alle digitale platforms.