Vyf-en-twintig jaar gelede is die legendariese Gé Korsten se wonderlike stem vir altyd stilgemaak. Lefra Produksies, wat vanjaar hul 30ste bestaansjaar vier, het besluit om hulde te bring aan Suid-Afrika se eie internasionale superster met Frans Swart se huldeblykproduksie, Gé Sing: Hoor My Lied. Regisseur Frans Swart sê dat toe hy en musikale regisseur, Chanie Jonker, aan die produksie begin werk het, het hulle dadelik besef dat die produksie ‘n liedjie benodig oor Gé self. “Daar was ‘n stadium in die produksie wat dit presies reg sou wees om ‘n liedjie oor Gé en nie van Gé te sing nie. En so is Ons Gé gebore. Na die eerste opvoering van Gé Sing: Hoor My Lied, het gehoorlede na ons toe gekom en gevra waar hulle hierdie liedjie weer kan luister, want dit het hulle so geraak. Ons kon dus nie anders as om Ons Gé professioneel op te neem nie,” sê Swart.
Hoe vang mens ‘n legende soos Gé Korsten se lewe in een liedjie saam? “Dit was ‘n groot uitdaging. Gé was baie lief vir die see, sy mense en vir Suid-Afrika. Dit is die essensie waaroor Ons Gé gaan. Hy was so ‘n innemende mens en het altyd geglimlag en lekker gelag. Ons wou al daardie elemente in een liedjie saamvat.”
Die sangeres, Stephanie Baartman, wat ook Ons Gé in die teaterproduksie sing, doen veral gestand aan die liedjie met haar ryk en sterk stem. Stephanie het haar televisiedebuut gemaak in die derde seisoen van Supersterre in 2010. Daarna het sy in kykers se harte ingekruip as Bianca “Bibi” Bhele in Getroud met Rugby. Sy het egter die hoëhak skoene van Bibi verruil vir die voorskoot van Lettie Adonis in Diepe Waters.
Linda Korsten, een van Gé se dogters, sê: “Ons Gé – wat ‘n pragtige lied wat hom so mooi uitbeeld. Hiermee sal ons hom nooit vergeet nie, en altyd in ons harte hou.”
