In ‘n betowerende samewerking het Ruan Josh en sy sussie, Franja du Plessis, onlangs hul nuwe enkelsnit, Net Hier Bly vrygestel en raak hulle liries oor Suid-Afrika.
Van Amerika tot Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Israel en selfs Seychelles – hierdie talentvolle sangers het reeds die wêreld deurtoer en opgetree. Maar as jy hulle vra watter van hierdie plekke hulle verkies, sal jy dit nie op die gebruikelike lys sien nie.
Oor die afgelope 8 jaar het Ruan Josh en Franja du Plessis hul stempel afgedruk in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekindustrie. Ruan het agter die skerms aan verskeie projekte gewerk, terwyl Franja haar kundigheid in die ateljee wys as dit kom by die vervaardiging van die geliefde musiek van die singende familie.
Die tyd het egter aangebreek vir hierdie talentvolle duo om weer kragte saam te span en ‘n splinternuwe liedjie aan die publiek bekend te stel. Net Hier Bly is geskryf deur Daniel Potgieter, met insette van Franja en Ruan self. Hierdie samewerking het ‘n ongelooflike gevoel van genot teweeggebring. Die liedjie is ideaal vir ‘n langpad, ‘n gesellige langarm sessie, of om ‘n lang dag af te sluit met ‘n vriende-braai.
Franja het self die produksie van die lied behartig en sê, “Ek wou iets skep wat by mense sal vassteek, en daarom het ek ekstra tyd spandeer om interessante klanke in die produksie te inkorporeer. Ek is baie trots op die eindresultaat.”
Ruan en Franja werk al vir meer as 18 maande saam aan Ruan se tweede album, Wysers, wat op 29 Maart 2024 vrygestel sal word. Hierdie album sluit treffers in soos “Ligte af,” “Ek sukkel,” “Vat die houe,” en natuurlik “Provider.”
Ruan deel sy waardering vir die bevoorregting om saam met sy sussie aan hierdie groot projek te werk. “Ek dink nie baie mense kry die voorreg om as familie so saam te werk nie, en ons verstaan mekaar baie goed. Franja was die logiese keuse toe ek oorweeg het met wie ek ‘n duet wil doen op die album. Ek is baie dankbaar dat sy ingestem het.”
Net Hier Bly is beskikbaar op alle digitale platforms.
Kyk die musiekvideo hier:
