Juanita du Plessis, Kurt Darren, Steve Hofmeyr, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Danny Smoke, Liezel Pieters, Lianie May, Jacques du Plessis en Gerhard Steyn.
Kaapstad maak gereed vir die grootste Afrikaanse musiek-konsert wat die moederstad nog ooit beleef het! Die epiese Theuns Jordaan Tribute–Konsert wat vroeër vanjaar op Loftus Versfeld aangebied was, het die room van Suid-Afrika se kunstenaars voor ‘n skare van meer as 20 000 toeskouers byeengebring, om in ‘n wêreldklas produksie hulde te bring aan die ikoniese Theuns Jordaan.
Na ‘n vloedgolf van versoeke aan die organiseerders, word Die Theuns Jordaan Tribute-Konsert op Saterdag 6 Januarie vanaf 20h00 by DHL Stadion in Kaapstad aangebied.
Die veertien top Afrikaanse kunstenaars wat by die Pretoria konsert opgetree het, sal ook in Kaapstad op die verhoog wees en die gewilde sanger Gerhard Steyn is ook onlangs bevestig om by die spesiale konsert op te tree. Steyn vertel dat dit vir hom `n aangename verrassing toe hy onlangs genooi is om deel van die konsert te wees. Hy sê: “Daar sal nooit weer iemand soos Theuns Jordaan wees nie. Eksentrief, Individalisties. Wie was nie betower deur sy diep stem en ook sielvolle vertolkings, selfs van ander se liedjies nie. Theuns het nie vir `n mark gesing nie. Hy het `n mark geskep. Daar gaan altyd `n leemte wees in daardie kanaal wat Theuns se stroom was. Ek noem dit “die rivier van Theuns Jordaan”, net hy kon daarin staan as `n kunstenaar. Ek mis hom, sy heengaan was vir ons almal `n groot verlies. Dit is vir my `n groot eer om deel te wees van hierdie besonderse huldeblyk-konsert.”

Een van die organiseerders en ook `n kunstenaar wat by die konsert gaan optree, Jacques du Plessis, het noukeurig daaraan gewerk om al Jordaan se grootste vriende in die musiekbedryf te vra om deel van die konsert te wees. Jacques was jare lank die bestuurder van Theuns Jordaan Productions en het ook as voorsanger by Jordaan se vertonings opgetree.
Du Plessis sê dat dit vir hom moeilik was om aanvanklik te kies watter liedjies van Theuns hy graag wil sing omdat al die liedjies so na aan sy hart is. “Ek het toe “Waar was jy?”, en “Bietjie van my” gekies en ek sing ook “Moenie” saam met Ricus Nel. “Moenie” is my gunsteling lied van Theuns. Dit is vir my een van die mooiste Afrikaanse liedjies wat nog ooit geskryf is. “Waar was jy?” spreek baie van Theuns op die pad en mense wat dan gemaak het of hulle deel was van sy reis was en hoe hy dan vra: “maar waar was jy gewees toe al die dinge gebeur het.” “Bietjie van my” is ook net so mooi geskryf en was nog altyd ‘n gunsteling. Dit is `n liefdesliedjie soos net hy kon skryf.”
Konsertgangers kan uitsien na Dozi wat `n roerende weergawe van “Blou Trein” doen, Juanita du Plessis wat vele male die verhoog met Theuns Jordaan gedeel het sal “Skipskop”, “Hart vol drome,” en “Bring jou Hart” sing. Ook op die program is Steve Hofmeyr “Net voor die storm kom”, “Beautiful in Beaufort Wes” deur Ricus Nel, “Loslappie” en “Op soek na jou” deur Kurt Darren, “Hanne” deur Bobby van Jaarsveld, “Honger Hart” en “Namibsroos” deur Bok van Blerk en vele meer. Vir meer inligting en die volle program, hou FB blad dop: www.facebook.com/theunsjordaantribute
Die Theuns Jordaan Tribute laat Theuns se liedjies herleef in ‘n reuse produksie wat deur gesoute vervaardigers Deedee Oosthuizen en Floors Oosthuizen behartig word, in samewerking met Theuns se jarelange vriend Jacques du Plessis.
Moet dit nie misloop nie! Die grootste Afrikaanse konsert wat Kaapstad in `n lang tyd beleef het!
Hekke maak 16h00 oop en die konsert begin 20h00.Kry jou kaartjies by https://itickets.co.za/events/474125
