“Ten spyte van al die sleg in ons land, vat dit nie baie om net ons oë te draai na al die mooi wat om ons is nie, en die grootheid en asemrowende handewerk van God in die skepping raak te sien nie,” sê Jacques en Liezel oor die inspirasie en betekenis agter hulle nuwe enkelsnit, Niks Kan Vergelyk.
Volgens dié talentvolle duo, wat verlede jaar weg gestap het met drie Afri-Indie Onafhanklike Musiektoekennings, en weereens hierdie jaar genomineer is vir drie toekenning by vanjaar se toekennings aand in April, is hierdie geestelike snit geskryf om luisteraars weer ‘n vars perspektief te gee oor die grootheid, goedheid en Heiligheid van die Here. “Soos Psalm 104 vertel oor die skepping en dat woorde nie God se grootheid kan beskryf nie, so vertel hierdie lied van die heelal wat Sy grootheid besing! In die storms en selfs die fluister, is Hy daar”, vertel die duo.
“Mens kan so vinnig die lelike raaksien met dinge soos beurtkrag, korrupsie en onsekerheid in Suid-Afrika, wat ons soms so mismoedig laat voel. Ons wil mense aanmoedig om weer die mooi raak te sien, dit wat ons wel het soos familie, ’n God wat onverdiend, altyd vir ons lief is en wat Sy alles vir ons aan die kruis gegee het. Wie is daar soos Hy? Selfs al dwaal ons af of raak verlore, Hy kom ons altyd haal. Want niks kan vergelyk met Hom,” se Jacques en Liezel.
Kyk die musiekvideo hier:
Hulle nuutste vrystelling is oudergewoonte deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en gaan ook vergesel word deur ’n pragtige musiekvideo, geskiet deur Jirus Gonzales. Hierdie musiekvideo beeld die lirieke perfek uit met die mooiste natuurtonele – alles wat Sy grootheid besing!
Sedert Jacques Schoeman en Liezel Marshall in November 2021 hul debuut in die musiek bedryf gemaak het, het hulle nog net van krag tot krag gegaan, met verskeie Nr 1 treffers op lokale radio stasies, asook oorsee. Hulle was ook te siene op verskeie televisie programme en kan meeste Sondae gesien word in een of ander kerk waar hulle musiek tot eer van God maak.
Niks Kan Vergelyk is die duo se sewende enkelsnit en volg in die voetspore van Uit my hande(Dans remix), Moving On, Vashou, Uit My Hande, Wonder van Kersfees en Need You More. Al hierdie vrystellings kan op verskeie radiostasies, landwyd gehoor word, en die musiek videos kan ook gesien word op hulle YouTube Kanaal.
Wanneer Jacques nie musiek maak nie, geniet hy dit om ou motors & motorfietse te restoureer, tyd saam met sy seuntjie deur te bring en saam met Liezel aanbidding te lei reg oor die land.
Liezel was deel van die gospelgroep, Onbeskaamd, en het een Ghoema-benoemde album vervaardig. Wanneer sy nie sing nie, hou sy van perdry, fotografie, grafiese ontwerp en om tyd saam met haar geliefdes te spandeer.
Niks Kan Vergelyk is nou beskikbaar op alle digitale platforms, laai dit hier af: https://tinyurl.com/NiksKanVergelyk

