Kom Party Saam Met My is ʼn energieke kuierliedjie en Frans Naumann se vierde enkelsnit – ʼn pop-dansliedjie uit die bekroonde skrywer, Vincent Gordon, se pen.
Dié voetstamplekker-snit gaan beslis ʼn treffer wees op die dansvloer en vertel die storie van mense wat ʼn lekker partytjie by die huis hou.
“Die feit dat vriende daarvan hou om gesellig te wees en saam te kuier by iemand se huis, was die inspirasie agter die enkelsnit,” verklap Frans. “As ʼn Afrikaner wat self daarvan hou om saam met vriende tyd te spandeer, kon ek nie anders as in te stem om hierdie besonderse liedjie op te neem nie.”
Frans meen dat die publiek sal aanklank vind by Kom Party Saam Met My, omdat die deuntjie almal wat dit hoor se voete sal laat jeuk om heel aand te dans. Huiskuiers is lekker gesellig en met winter op ons voorstoep, gaan daar nog baie geleenthede wees om herinneringe te maak om die braaivleisvuur, met hierdie liedjie in die agtergrond.
“Ek is al van kleins af lief vir musiek. Nadat ek in 2019 begin het met sang- en kitaarlesse by Progressive Music Dance and Art School, het ek in 2020 betrokke geraak by Sing Aanlyn, ʼn projek waar opkomende sangers touwys gemaak word deur groot name in die industrie,” deel hy oor sy musiekloopbaan.
Luister die liedjie hier:
Wanneer ʼn mens hom uitvra oor wie hom inspireer, is Bobby van Jaarsveld en Lee Scott heel bo-aan die lys. Hy sal ook nog graag eendag saam met kunstenaars soos Juanita du Plessis en Dirk van der Westhuizen wil werk.
“Ek luister na ’n wye verskeidenheid musiek, maar verkies Afrikaans en country bo enigiets anders,” sê hy.
Bedags is hy ʼn hardwerkende man wat gereedskap maak. Dit stimuleer die ander kant van sy kreatiwiteit, want hy is mal daaroor om met sy hande te werk.
Om sy eerste enkelsnit, Dronk op Liefde, vry te stel, was een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover en hy hoop om gehore nog vir baie jare aan die dans te hou met sy treffers.
Kom Party Saam Met My is nou beskikbaar op alle aanlynplatforms.

