Sincerely AnneSincerely Anne

Sincerely Anne, bekend vir haar strelende stem en aangrypende lirieke, het pas ’n splinternuwe enkelsnit vrygestel wat selfs die mees kritiese oor tevrede sal stel.

Sy beskryf Dying To Love You, as die mees waardevolle les wat sy in die lewe geleer het en dit gaan daaroor om te aanvaar wanneer ’n verhouding nie werk nie en dit tyd is om te laat gaan.

“Soos met al my musiek, is daar altyd persoonlike inspirasie agter die lirieke,” verklap die sanger en liedjieskrywer. “Die liedjie is deel van my ontdekking van wat liefde is en wat dit nie is nie. Die skep daarvan het my laat besef dat dit ’n interafhanklike dans is wat twee mense, wat in beheer is van hulle eie lewe, vereis wat op dieselfde bladsy is om te werk. Wanneer liefde net van een kant af kom, is dit nie die moeite werd om vas te klou nie. Liefde gaan ook oor vryheid en nie eienaarskap nie, so om op te gee is nie ’n skande nie. Die snit is geïnspireer deur my eie aanvaarding van hierdie waardevolle lewensles.”

Hierdie liedjie gaan beslis aanklank vind by ’n wye gehoor, omdat die wysie lekker opgewek en die boodskap universeel is.

Die snit word gekomplementeer deur ’n indrukwekkende musiekvideo wat op 13 Mei bekendgestel sal word.

Dying To Love You is haar vierde enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van haar vorige treffers; She’s On Fire, Poison en Transcend.

 Anne woon in Johannesburg, maar het op ’n plaas grootgeword waar sy tuisonderrig ontvang het tot op die ouderdom van dertien. Sy is die jongste van vyf kinders en was baie jonk toe sy viool begin speel het. Dié talentvolle musikant het vir negentien jaar viool gespeel by funksies en vir vyf jaar in groepe gesing, voordat sy in 2017 besluit het om ’n solo-loopbaan aan te pak.

Sy het al die verhoog met van die grootste name in die musiekbedryf gedeel en was ook, as konsertmeester en vioolspeler, betrokke by orkeste soos die NWU PUK-orkes en die Randse Simfonieorkes. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ook ’n viool- en klavieronderwyser en sy werk tans aan haar debuut-album wat later vanjaar bekendgestel sal word.

Met Dying To Love You, hoop Anne om luisteraars te inspireer om op ’n dieper vlak na hulle verhoudings te kyk. “Ek wil hê mense moet besef dat ’n diep, interaktiewe en betekenisvolle verhouding jou nooit sal laat voel dat jy jouself moet prysgee vir liefde nie,” sluit sy af.

Dying To Love You is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!