Pieter Koen en Tarryn LambPieter Koen en Tarryn Lamb

Wanneer twee stemme soos dié van Pieter Koen en Tarryn Lamb saamsmelt, is dit amper gewaarborg dat dit ’n hoendervleis-oomblik tot gevolg sal hê. Pieter en Tarryn het pas hul enkelsnit, When You Tell Me That You Love Me, vrygestel en hul vars aanslag op dié ou geliefde treffer is in die kol.

When You Tell Me That You Love Me is ingesluit op Pieter se album, Timeless, wat onlangs vrygestel is.

“Met Timeless wou ek weer ’n ander sy van my wys en het van my gunsteling liedjies gaan afstof en opneem,” het Pieter vertel.

When You Tell Me That You Love Me is oorspronklik in 1991 deur die internasionale sangeres, Diana Ross, vrygestel en sy self het al na dié liedjie verwys as haar kenmerk liedjie waarmee sy die meeste vereenselwig word. Met Pieter en Tarryn se weergawe het Danny Smoke, gewilde sanger bekend vir treffers soos Gaan Ons Inlê en Jou Lippe, as vervaardiger opgetree.

“Hierdie liedjie bring soveel warm herinneringe terug. Toe ek op hoërskool was, het my ma my aangemoedig om hierdie liedjie te leer en by my skool, Hoërskool Vishoek, se jaarlikse verskeidenheidskonsert te sing,” het Tarryn opgewonde vertel.

“Dis so ’n voorreg om jare later hierdie liedjie saam met een van ons land se gunsteling kunstenaars te kon opneem,” het sy bygevoeg.

’n Liriekevideo word ook saam met die enkelsnit vrygestel.

Pieter het geen bekendstelling in die Afrikaanse musiekbedryf nodig nie. Suid-Afrika het hom leer ken met sy treffer Skud Jou Biscuit wat in 2004 die lug gesien het. Daarna het hy ook diep in TV-kykers se harte gekruip as aanbieder van die Afrikaanse musiekprogram, Jukebox, en later ook as Kwêla-aanbieder waartydens hy Sondae in in menigte kykers se huise kuier.

Met verskeie musiektoekennings en -benoemings, talle nommer een-treffers en albums wat goue status behaal het, is hy vandag ’n huishoudelike naam. Timeless is sy negende album en hy vier vanjaar ook 25 jaar in die musiekbedryf.

Tarryn het die Afrikaanse musiekbedryf oorrompel met haar eerste solo enkelsnit, Mal Oor Jou, in 2018. Voor dit was sy hoofsanger van die gewilde BlackByrd. Sy gaan binnekort ook as mentor op Die Kontrak 2 gesien kan word.

When You Tell Me That You Love Me is beskikbaar op alle musiekstromingsdienste.

Leave a Reply

error: Content is protected !!