Dit vat ’n spesiale kombinasie van talent en groot drome vir ’n kunstenaar om uit te staan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – en gelukkig het Mondrey genoeg van albei om vir homself ’n baie belowende toekoms te verseker.

Hierdie opkomende sanger se eerste enkelsnit, Weerloos, is pas vrygestel en gaan binnekort ’n gunsteling wees op elke Afrikaanse musiekspeellys.

Weerloos is vir Mondrey baie spesiaal – nie net omdat dit sy eerste vrystelling is nie, maar ook omdat dit ’n liedjie is wat hy saam met die baie begaafde Sky Ocean (Marli Mulder) geskryf het gedurende die grendel-tydperk.

Hierdie popsnit, wat oorsese elektroniese dansritmes bevat, kan beskryf word as ’n liefdesverhaal met ’n twist. Die kinkel lê nie net in die unieke musiekstyl waarin dit verwerk is nie, maar ook in die feit dat die meisie in hierdie verhaal nie maklik oorgewen word nie.

Weerloos gaan oor ’n ou wat aanlê by ’n beeldskone meisie gedurende die kuier. Hy weet nie dat sy hard-to-get speel nie en hoe meer hy haar aandag soek, hoe meer skiet sy hom af,” verduidelik hy. “Nadat hy sy gevoelens verklaar het en net voordat hy moed opgee, erken sy dat sy op hom ook verlief is.”

Die enkelsnit, wat deur Sean Butler vervaardig is, dra nie noodwendig vir die kunstenaar persoonlike betekenis nie, maar is eerder ’n poging van sy kant af om luisteraars daaraan te herinner dat almal iemand in hulle lewe het wat hulle weerloos maak.

“Ek dink mense gaan die liedjie geniet omdat oud en jonk daarby sal aanklank vind. Ons almal het al iemand gehad waarvoor ons baie lief is, maar nooit die moed gehad het om dit voor te sê nie en dus ook nie weet of hulle dieselfde voel nie,” sê hy. “Die snit het ’n unieke klank en ’n lekker ritme en ek kan nie wag om te hoor wat die publiek daarvan dink nie.” Hierdie oorspronklike popsnit is ’n lekkerte vir die oor en het een van daardie wysies wat jou uitnooi om saam te sing en dans.

Die enkelsnit word verder ook gekomplementeer deur ’n musiek video wat deur Fokkid Media, verfilm is. In die musiekvideo hou ek ’n partytjie waarheen almal genooi is, insluitend die meisie waarvan ek hou. Sy daag op en ek speel hard-to-get om haar aandag te probeer trek en sy flirt met iemand anders om my jaloers te maak, maar ons is onbewus van mekaar se gevoelens,” verklap die sanger. “Op die ou einde gee sy op en loop weg. Ek hardloop toe agter haar aan, maar kan haar nie dadelik kry nie. Wanneer ons mekaar vind, is ons uiteindelik eerlik en raak ons verlief.”

Die video is by Bass Lake Country Lodge geskiet in Pretoria. “Ons het daar geskiet tydens sonsondergang vir die perfekte partytjie atmosfeer. Dit is ’n pragtige venue met ’n mooi uitsig van die natuur en nie net ’n gewone huis, met ’n gewone partytjie gevoel nie,” sê Mondrey.

Volgens dié veelsydige ster, is hierdie afskopfase van sy loopbaan ’n groot hoogtepunt en ’n splinternuwe hoofstuk in sy lewe.

Dit beteken egter nie dat hy geen ervaring het nie. Hy studeer tans BMus aan die Universiteit van Pretoria en het groot drome om eendag sy eie platemaatskappy te besit. “Ek is ’n energieke ekstrovert met ’n passie vir musiek. Dit voel regtig asof ek gebore is om op die verhoog te wees en die beste weergawe van myself is wanneer ek mense kan vermaak,” vertel Mondrey. “Dit was van jongs af my droom om ’n sanger te wees en dit het nog nooit verander nie.”

Hy verklap dat hy al sing vandat hy drie is en ’n hele paar instrumente kan speel, waaronder die klavier, kitaar en die penniefluitjie, en dat hy versot is op dans.

Mondrey beskryf sy stem en styl as sterk en suiwer en hy bewonder kunstenaars soos Michael Jackson, Jan Bloukaas en Bernice West. “Michael Jackson staan letterlik vir alles in die musiekbedryf. Hy was een van die beste dansers en stemme in die musiekwêreld en dis my grootste droom om in sy voetspore te volg,” sê hy.

Hierdie doelwit is ook duidelik wanneer jy hom uitvra oor sy gunsteling-musiek: “Ek hou veral van musiek uit die 80’s en 90’s en het ’n groot passie vir elektroniese dans- en Afrikaanse musiek. Plaaslik luister ek graag na Jan Bloukaas, Die Heuwels Fantasties, Synth Peter en Nicholis Louw en internasionaal na Imagine Dragons, Ed Sheeran, Kygo en Martin Garrix,” verduidelik hy.

Verder put hy inspirasie vir sy musiek uit lewensgebeurtenisse en klank wat emosie uitbeeld en meen hy dat die bedryf hom geleer het om hard te werk en net homself te wees. “Die musiekbedryf is soos ’n speletjie en as jy jou kaarte reg speel, sal jy dit maak.”

Mondrey werk tans daaraan om sy naam te vestig en aan nog musiek om vry te stel aan die publiek. Met die vrystelling van Weerloos, behoort hy kort-voor-lank die naam op almal se lippe te wees. Die liedjie se lekker dansritmes vang die opwinding van die liefde vas en getuig van die genot wat hy ervaar het om dit te skep. As dit enige aanduiding is van wat hy vir die toekoms beplan, gaan die pad vorentoe vir hom nog groot sukses inhou.

Weerloos is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!