Janie Bay se splinternuwe enkelsnit My Lief is vandag deur Warner Music South Africa bekend gestel. Die video van hierdie nuwe trefferliedjie is pas uitgereik.

Hierdie funky pop liedjie wat Bay saam met die gewilde kunstenaars Majozi en Early B geskryf en opgeneem het, wys weereens hoekom Janie Bay as `n baanbreker van haar musiek-generasie bekend staan. My Lief verskyn saam met 6 nuwe liedjies op Bay se nuwe album Prisma wat op 18 Junie bekendgestel word.

Bay het reeds `n jaar of twee gelede aan My Lief begin werk. Sy vertel: “Die boodskap van die liedjie is net eerlik en eenvoudig. Verhoudings is nie altyd perfek nie. Die liedjie gaan daaroor om vir die lange duur agter jou geliefde te staan, al maak mens mekaar soms mal.

Bay het tydens die skryfproses besef dat dit `n perfekte colab-liedjie sal kan wees. Sy vertel dat sy en die gewilde sanger Majozi al vir `n rukkie daaroor gesels om iets saam te doen.  Dit was toe `n spontane proses dat Majozi se lirieke in die lied in Engels geskryf en gesing is. Majozi sê dat hy opgewonde was om saam met Bay te werk. “Janie het `n wonderlik gawe om lieflike melodieë te kan “hoor” en dit dan in `n liedjie saam te vat.”

Bay het die super talentvolle Early B genader om ook mee te maak. Die treffer “Die Heelal” wat Bay en Early B in 2019 saam gedoen het, het groot sukses behaal en aanhangers vra gereeld wanneer hulle weer iets saam gaan doen. Early B het dadelik ingestem. Hy sê: My Lief is ‘n song wat nodig is in tye soos die. Ons almal wil hoor daar is iemand wat ons onvoorwaardelik liefhet. Die wêreld is nie meer dieselfde nie en die liedjie herinner ons dat alhoewel alles om ons verander, bly Liefde steeds staande.”

Die konsep en die regie van die video is behartig deur die talentvolle Damiane van Reenen. Die video is in Hermon in die Weskaap verfilm. Van Reenen sê die idee van `n ruimte met stoele in oop vlaktes was geïnspireer deur die gevoel van die liedjie met betrekking tot oop gesprekke met mekaar oor die liefde. Die storielyn handel daaroor dat die liefde kan bly staan as mens deur die moeilike tye onthou dat jy dit eintlik wil maak werk. Majozi se rug teen rug tonele met Janie Bay dui op die feit dat dit soms meer moeite vat om mekaar te verstaan.  Van Reenen vertel verder: “Majozi wat skeef lê op die skerm dui op die perspektief van “seriously ek staan al op my kop van luister/praat/lief hê.” Early B se dele op al die stoele was vir my so half die einde van die verhaal, na al die gesprekke gekom en gegaan het en die storie amper klaar was, was die stoele besig om opgepak te word.  Early B se woorde “nou`s ons steady” het alles bymekaar gebring.Bay hou baie van die video. Sy sê: “Damiane is tans een van ons mees opwindenste filmmakers. Ek het nog altyd gehou van eenvoudige, dog treffende videos en ek sien uit daarna om hierdie een met almal te deel!

Kyk die video hier:

My Lief is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | YouTube | Webblad

Leave a Reply

error: Content is protected !!