Die ikoniese aktrise, Shaleen Surtie-Richards is vanoggend op die ouderdom van 66 oorlede.

Surtie-Richards se familie het ‘n verklaring uitgereik nadat die aktrise Maandagoggend dood in ‘n gastehuis in Kaapstad gevind is. “Dit is algemeen bekend dat sy aan diabetes en hartkwale gely het, en haar dood kan daarmee verband hou, maar die familie wag vir die uitslag van die nadoodse ondersoek. Daar is allerhande gerugte oor die oorsaak van haar dood, en dit is waarom ons wil benadruk dat me. Surtie-Richards nie haar eie lewe geneem het nie,” sê Alistair Izobell, familiewoordvoerder, in die verklaring.

Volgens hom het Surtie-Richards, wat as Nenna in die sepie Egoli: Plek van goud diep in Suid-Afrikaners se harte gekruip het, in die gastehuis tuisgegaan terwyl sy aan die televisiereeks Arendsvlei gewerk het. “Ons het ‘n suster, tannie en niggie verloor. Ons probeer om die nuus te verwerk en ons gebroke harte te kalmeer. Ons besef sy was nie net in ons harte nie, maar in dié van die volk. Ons is dankbaar vir die liefde, bystand en respek terwyl ons haar regmaak dat die gordyn vir die laaste keer sak.”

Die aktrise Lizz Meiring het vroeër vertel dat Surtie-Richards was die afgelope tyd nie gesond nie. “Asemhalings- en longprobleme, maar ons weet nie wat die oorsaak was nie.”

Shaleen Surtie-Richards word ook veral onthou vir haar rol as Fiela in die fliek Fiela se kind. Surtie-Richards is op 7 Mei 1955 in Upington gebore en het haar as ‘n kleuterskoolonderwyser bekwaam deur tussen 1974 en 1984 onderwys te gee. Sy is later tussen 1974 en 1981 in ‘n aantal amateurproduksies vertolk en was ook van 1982 tot 1984 aktief in produksies van die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys se teater-in-onderwys. Sy begin haar professionele aktiewe loopbaan in 1984.

Met ‘n loopbaan in teater, film en TV wat byna 40 jaar strek, het Shaleen aan beide die Grahamstad- en Edinburgh-feeste deelgeneem. Meer onlangs was sy te sien in kykNet se Arendsvlei en die Showmax fliek Swirl.

Leave a Reply

error: Content is protected !!